Sentraal-Karoo se wenspan van die SARU/-SWD Munisipale Rugbyskild. (Foto verskaf.)
Sentraal-Karoo se munisipale rugbyspan het Saterdag (9 November) op Albertinia in winderige toestande die eindstryd om die SARU/SWD Munisipale Skild teen Bitou se munisipale span met 39-32 gewen.
Bitou het rustyd met 10-13 voorgeloop.
Sentraal-Karoo het Saterdag, 2 November, na die eindstryd deurgedring deur Knysna op Sedgfield met 30-29 te klop om met 25 punte boaan die punteleer te eindig. Bitou het sy plek in die eindstryd bespreek deur Kannaland op Calitzdorp met 38-20 te klop om met 23 punte tweede op die punteleer te eindig.
Claud Hendriks, hoofafrigter van Sentraal-Karoo, het sy span se oorwinning toegeskryf aan ’n ware spanpoging.
Die telling was digby die einde 32-32 toe ’n strafdrie aan Sentraal-Karoo toegeken is om dié Karoospan ’n wentelling van 39-32 te besorg.
Sentraal-Karoo se drieë is gedruk deur Jaco Hendriks (losskakel), Kennedy Horn (vleuel), Marshall Keyser (heelagter), en Wilfred Vries en Jonell de Wee (albei flanke), en dan die strafdrie. Hendriks het twee drieë verdoel en ’n strafdoel aangeteken.
Hendriks is as die Speler van die Wedstryd en die Speler van die Reeks aangewys. Hy het ook die prys ontvang vir meeste punte in die reeks aangeteken.
Volgens Claud Hendriks is die toernooi ’n uitstekende platform om spelers in die Karoo goeie blootstelling te gee.