Sensei Gerald Mooney na Japan

Van links is Sensei Gerald Mooney, Sensei David Britten, Zenshun Shimabukuro, Meester Zenpo Shimabukuro, Zenei Shimabukuro, Sensei Kay September en Shihan Henry Paulse. Foto: Verskaf

Sensei Gerald Mooney, 2de dan in Tradisionele Okinawan Shorin-ryu Seibukan karate, was van 15-24 Oktober in Chatan Okinawa vir die viering van die 62ste herdenking van die Internasionale Okinawan Shorin-ryu Seibukan Karate Association (IOSSKA).

Hy was deel van ’n span van vier wat Suid-Afrika verteenwoordig het, naamlik Sensei David Britten 3de dan, Sensei Kay September 3de dan en Shihan Henry Paulse, die hoofinstrukteur van Shorin-ryu Seibukan Karate Suid-Afrika.

Die span het daaglikse oefensessies bygewoon, wat aangebied was by die Hobu dojo van Seibukan onder die 10de dan, Meester Zenpo Shima-bukuro, en sy twee seuns, Zenshun en Zenei Shimabukuro. Daarna was hulle deel van die domonstrasie van kata en kumite wat deel gevorm het van die vieringe.

Vir Sensei Gerald was die hoogtepunt om die kulturele leefstyl van Okinawa, die eiland waar karate gebore was, eerstehands te ondervind. Hy het dit geniet om te oefen onder leiding van Meester Zenpo Shimabukuro (Shorin Ryu Seibukan), en het ook die eer gehad om die legendariese 10de dan-Meesters in karate te ontmoet.

“Hierdie meesters was onder andere Tetsuhiro Hokama van Kenshi Kai Goju Ryu, Mario Higaonna Goju Ryu en 9de dan, Sensei Matsuda Tatsunori van Okinawan Kenpo Ka-rate,” het Seinsei Gerald aan Die Hoorn gesê.

Hy noem verder dat hy baie geleer het en dat hierdie kennis tot die beste van sy vermoë oorgedra sal word aan die karateka van Seibukan Dojo Oudtshoorn. Indien enige persoon belangstel om by Seibukan Oudtshoorn aan te sluit, kan hulle die oefening bywoon by die VGK-saal in Bridgton, op Dinsdae en Donderdae van 16:00-18:00. (LINDI BRILL)