Atlete wys staal met Dryland Traverse

Die Dryland Traverse neem die drawwers oor 4 dae op asemrowende roetes deur die Klein Karoo. Onder: Die misterieuse Robbie wat die atlete met sy blokfluit deur die Kango-grotte begelei het. Fotos: verskaf

Die gewilde jaarlikse Dryland Traverse-wedloop het van 31 Oktober tot 3 Novermber by De Hoek, buite Oudtshoorn plaasgevind.

Die voorloper tot die Traverse is ’n roete deur die Kango-grotte.

Daarna volg drie dae, elk met ’n verskillende en uitdagende roete. Die eerste dag se skof begin bo-op die Swartbergpas en is 20,9 km lank.

Dag twee se uitdaging is ’n roete van 25,6 km waar strome, wat die naweek sterk gevloei het, verskeie kere gekruis moes word. Die laaste dag is ’n korter en vinniger roete van 10 km.

Op die roete deur die grotte het ’n misterieuse man, slegs bekend as Robbie, uit die niet verskyn en die atlete met sy blokfluit begelei en gesorg dat moeë bene weer nuwe krag kry.

Na die eindstreep bereik is, het hy net so skielik verdwyn.

Hy het die gepaste bynaam, “The Pied Piper of Dryland” verdien. Die volledige uitslae en talle foto’s is beskibaar op www.drylandtraverse.co.za. (LINDI BRILL)