DIE Eden Fietsryvereniging bied vanjaar die Suid-Afrikaanse Padfiets Jeugkampioenskappe aan, en boonop sal die byeenkoms in Oudtshoorn vanaf 19 tot 21 Maart plaasvind. Dit is volgens Eden Fietsry ’n groot eer wat dié sportvereniging te beurt geval het.
Wat nog meer opwinding gaan bring is dat die Universiteitssport van Suid-Afrika Fietsrykampioenskappe vir die eerste keer op Oudtshoorn gaan plaasvind oor dieselfde langnaweek, en dat die laaste dag van die Jeugkampioenskappe na die gemeenskap van Oudtshoorn gebring sal word wanneer die fietsren by Aurial College sal afspeel.
Corné Bence, president van die Eden Fietsry-vereniging, het gesê dat Eden Fietsry al verskeie kere in die verlede die SA Padfietskampioenskappe aangebied het, “en ons is baie bly dat ons weer die geleentheid gekry het. Ons is ook baie trots en bevoorreg om die Universiteitskampioenskappe saam met die SA Jeugkampioenskappe aan te bied,” het hy gesê.
Volgens Bence sal ongeveer 1 500 mense op Oudtshoorn toesak en hul hier tuismaak vir die twee kampioenskappe. “Dit gaan beteken dat ons dorp ’n groot finansiële inspuiting gaan ontvang,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat die gemeenskap van Oudtshoorn veral op die laaste dag van die kampioenskappe die fietsryers sal kan ondersteun wanneer hierdie finale been by Aurial College aangebied sal word.
Vanjaar se padfietskampioenskappe sluit ’n individuele tydtoets, padfietsren en kriterium- fietsren in.
Die tydtoetse sal Saterdag (19 Maart) om 07:00 by Highgate Volstruisplaas afskop en word oor 10, 15 en 20 km gehou, afhangend van deelnemers se ouderdomsgroep.
Die padfietsrenne skop Sondag, ook om 07:00 af, en afhangend van ouderdomsgroep sal deelnemers óf 19, 27, 54, 72 óf 107 km aflê. Padwed-renne sal ook by Highgate afskop, maar verder ’n roete volg op die skakelpaaie tussen Volmoed en die R328, of die R62 en R328.
Maandag, ook Menseregtedag, sal die kriterium-fietsrenne om 07:00 by Aurial Kollege begin.
’n “Kriterium” is ’n fietsren met ’n massabegin, en is ’n multi-rondte-byeenkoms wat op ’n geslote baan gehou word. Dit verg van deelnemers dat hulle ’n voorafbepaalde aantal rondtes moet ry, of dat hulle vir ’n voorafbepaalde tyd aaneen moet ry.
Tydens die kampioenskappe sal fietsryers, afhangend van ouderdomsgroep, vir 10, 15, 20, 25 of 35 minute moet ry, plus ’n enkele rondte daarby.
Vanjaar se kriterium behels ’n baan van 1,37 km wat in Bonteboklaan sal begin, en anti-kloksgewys na Vyfdelaan, Springbok- en Zebraweg sal beweeg. (Deur Stefan Skapie Goosen)
