Yolande wen Swartberg Bergfietsren vir tweede jaar!

Oudtshoorniet, Yolande De Villiers vier haar oorwinning in die vroue-afdeling, en ook algehele derde-plek in die Swartberg Xtreme Bergfietsren van Saterdag. Foto: Charl Gerber

DIE Oudtshoorniet, Yolande de Villiers, het Saterdag (5 Maart) haar ‘wenmaniere’ van die afgelope paar jaar voortgesit en vir die tweede agtereenvolgende keer die vroue-afdeling van die uitmergelende Swartberg Xtreme Bergfietsren gewen.

De Villiers het ook die meerderheid van mans in die fietsren ore aangesit en algeheel derde oor die wenstreep van die 171km-fietsren gery, wat by Wilgewandel Vakansieplaas afgeskop en geeïndig het.

Volgens die organiseerders, Klein Karoo Dust4Glory tesame met Chain Gang Events, was dit vanjaar slegs die tweede aanbieding van die uitdagende bergfietsren. Dit staan ook bekend as ’n “100 miler”, sluit 4 850m se klim in, en dien ook as voorbereiding vir die 2022 Absa Cape Epic. “Hierdie feit maak dit verseker die mees uitdagendste eendag bergfietsren in Suid-Afrika. Beslis nie ’n bergfietsren vir beginners nie!”

De Villiers, wat vir Team Coopetto gery het, se wentyd in die vroue-afdeling was 9 ure, 21 minute en 28 sekondes.

Vanjaar se mans-afdeling is deur Theuns van der Bank van Realty Dynamix/Powerbar Cycling gewen, met sy tyd van 8 ure, 53 minute en 1 sekond.

Die aflosspan-afdeling is deur SG Laubscher en André Joubert van Somerset-Wes, met ’n tyd van 9 ure, 56 minute gewen.

Dié bergfietsren neem deelnemers vanaf Wilgewandel, oor die Swartberg Pas, dan links-af in die Gamkaskloof in, na Prins Albert tot by Scholtzkloof, en dan weer terug na die eindpunt by Wilgewandel.

Inskrywings vir 2023 sal binnekort oop wees. (Deur Stefan Skapie Goosen)