
Die KKNK is om die draai! En familie, vriende en kennisse van regoor die land kontak ons as Oudtshoorniete tans vir aanbevelings oor verblyf en plaaslike aktiwiteite. Dit is juis waarom Die Hoorn by De Zeekoe Gasteplaas buite Oudtshoorn gaan kuier het – om vir ons lesers van hul huidige aanbiedinge te vertel.
By De Zeekoe, wat ’n skrale 7 km buite Oudsthoorn op die Mosselbaaipad (R328 Suid) geleë is, is daar 21 luukse dubbel-kamers, ’n drieslaapkamer selfsorg Manor House en drie selfsorgkliphuisies wat elk twee mense kan huisves en wat die nuutste toevoeging tot die eiendom is.
Gastekamers
Dié luukse en-suite-eenhede is modern in ontwerp en is toegerus met ’n kroegyskas, lugverkoeling, waaiers, en sommiges selfs met kaggels. Gaste word gratis van WiFi voorsien en die kamers kyk suidwes oor die pragtige Outeniquaberge en die Olifantsrivier.
Die Manor House
Die Manor House by De Zeekoe is ’n drieslaapkamerhuis met sy eie kombuis, sitkamer met ’n kaggel en ’n buitebraai. Al die kamers is en-suite en hierdie opsie is ideaal vir ’n gesin of ’n groep vriende wat die kunstefees saam wil kom geniet.
Selfsorgkliphuisies
Drie super-moderne kliphuisies sit op ’n rantjie sowat 3km van die gastehuis af, wat vir besoekers eksklusiwiteit en privaatheid bied. Dié huisies deel ’n pragtige swembad en het elkeen ’n ingeboude braai op die stoep. Vir ’n groep vriende of familie wat saam wil weg kom, maar steeds hul eie eenhede wil hê, is die selfsorgkliphuisies ideaal!
De Windpomp Restaurant
Buiten die luukse verblyf bied De Zeekoe ook De Windpomp Restaurant waar hul gaste sowel as die publiek ontbyt en aandete kan geniet.
Wanneer dit by uitsig kom, wen De Windpomp Restaurant vir seker die prys. Vanuit die eetkamer met sy groot glasvensters sien jy die ganse horison vanaf die Suide tot in die Weste, en die Klein Karoo lewer hier ’n vertoning van haar eie met die skouspelagtigste sonsondergange.
Die spyskaart is smaaklik, toeganklik en bekostigbaar en die wynlys is verfrissend plaaslik. As voorgereg het ons mossels wat in krummels diepgebraai is bestel. Dit word bedien op kraakvars slaaiblare uit De Zeekoe se eie tuin met klein, soet tamatietjies, fetakaas en De Zeekoe se eie (en heerlike!) ingelegde olywe.
Vir hoofgereg het ons op die verruklike Wildside-pizza besluit: in ’n houtoond gebak met volstruiscarpaccio, olywe, fetakaas en roketslaai op ’n basis van mozzerella en tuisgemaakte tamatiesous. Saam met De Krans se 2021 Pinotage Rosé was hierdie die perfekte Sondagmaal vir ’n warm somersaand. Die restaurant kook elke dag vir De Zeekoe se gaste, maar is ook oop vir die publiek. Bespreek dus gerus ’n tafel vir jou volgende romantiese skemeraandete.
Ander fasiliteite en aktiwiteite by De Zeekoe is die Karoo Tranquility Spa, waar besoekers ontspannende masserings en spa-behandelings kan bespreek, bergfietse wat gratis beskikbaar is vir gaste wat die vlaktes wil invaar, en ’n unieke meerkatervaring wat vroeg elke oggend plaasvind om besoekers aan dié oulike inwonertjies van die Klein Karoo voor te stel.
Vir meer besonderhede of om ’n bespreking te maak, besoek De Zeekoe Gasteplaas se webtuiste by dezeekoe.co.za, kontak De Zeekoe gerus by selnr 082 551 3019 of stuur ’n e-pos na info@dezeekoe.co.za.


