Fynproewerskos in styl

Die eienaars van Pluim Eatery, Jan Badenhorst (links) en Andries Schoeman saam met hul kulinêre vennoot, sjef Ilze Beyers. Foto: Robert Koen

Bo: Koedoefilet met granaatsade en ’n pruimsous

Bo: Pruimkoek met roomys

Bo: ’n Kunswerk van beelhouer Anton Smit by Pluim Eatery.

PLUIM EATERY in Schoemanstraat op De Rust is ’n restaurant, kunsgalery en geskenkwinkel wat slegs enkele weke gelede in die Klein Karoo sy deure geopen het. Ek het by hulle aangeklop vir ’n buffet-styl Sondagmiddagete en was met die intrapslag aangenaam verras.

Om eenvoud met styl te laat harmonieer, is nie altyd maklik vir restaurante nie. Die dekor kan te besig wees, die spyskaart te lank, die ligte te helder, die musiek steurend en die kosgarnering soos iets op ’n hoed uit die 1800’s.

By Pluim Eatery vul eenvoud en styl mekaar egter aan, vat hande en trou! Sementvloere vul die middernagblou fokusmuur aan en die outydse houtkosyne skep ’n mooi kontras met die beton-tafels wat minimalisties gedek is met elegante langsteel-wynglase en spierwit katoenservette.

’n Stukkie Soho op De Rust het ek gedink toe ek my tafel aangewys word in die koel binnehof tussen versamelstukbeelhoukuns deur die wêreldberoemde SA beeldhouer, Anton Smit. Hier bring jy jou eie bottel wyn saam met geen kurkfooi nie. Ek het skaars my sit gekry toe staan daar ’n emmer vol ys en water gereed om my wyn koel te hou.

Daar is niks so belangrik soos goeie en gefokusde diens om ’n goeie indruk op ’n besoeker te maak nie. Die oomblik dat ek by ’n restaurant aansit, wil ek dadelik iets kan drink – gewoonlik net ’n glas koue water terwyl ek na die spyskaart en wynlys kyk. By Pluim was daar gou-gou ’n bottel koue mineraalwater in die ysemmer by my wyn – ’n gawe begin, om die minste te sê.

Eienaars Andries Schoeman en Jan Badenhorst is op die vloer saam met ’n enkele kelner, en tussen die drie van hulle word jy subtiel onder die oog gehou sonder daardie alewige “Is alles nog reg”-besoekies wat ’n mens so dikwels by restaurante ontvang. Hulle maak tyd om vriendelik met jou te gesels wanneer jy vrae het, maar beweeg gou weer aan om jou saam met jou gaste te laat ontspan.

En ontspan het ons wel. Soos die tafels vol raak, neem die geklets van vriende toe wat mekaar hier vir ete ontmoet en raak die klanke van glasies wat geskink en geklink word hoorbaar. Die afwesigheid van musiek het my opgeval – ’n groot pluimpie vir Pluim. Ek het weereens besef hoe belangrik die teater-elemente van ’n restaurant is. Beligting en klank speel ’n deurslaggewende rol in die skep van ’n lekker kuieratmosfeer.

Toe almal geskep het en eetgery soos klokkies deur die restaurant klingel, kon ek wel ligte jazz-musiek sag in die agtergrond hoor. Danksy goeie tydsberekening het strelende klanke opgeklink toe gaste minder praat terwyl hulle smul aan die geregte van die dag.

Die eienaars se kulinêre vennoot, sjef Ilze Beyers, is aan die roer van sake in die kombuis. Teen 12:30 is ’n ronde tafel gevul met verruklike kos: koedoefilet met granaatsade en pruimsous, ’n broccoli-slaai met bosbessies in ’n romerige pekanneutsous, filodeegbeursies gevul met geurige fynhoender, ’n slaai van waatlemoen en fetakaas met grenadella, en ’n heerlike panzella – ’n Italiaanse broodslaai.

Hoewel die koedoefilet effe te gaar na my persoonlike smaak was, was dit steeds geurig en sag. Die nagereg, ’n pikante pruimtert met roomys, het dié feesmaal goed afgerond. Die Sondagbuffet word geweeg en kos R300 per kg. Glad nie sleg vir fynproewerskos met sprankelende diens nie!

Gedurende die week bedien Pluim Eatery ’n a la carte-spyskaart met onder meer ’n heeldag-ontbyt, heerlike gebak en ’n paar chef’s specials soos ’n slaai met vye en feta, romerige peri-peri hoenderlewertjies op polenta, en lamsvleis in ’n pita-brood met slaai of skyfies.

Persoonlik gee ek vir Pluim Eatery vyf sterre vir hul diens en kos, en vir die pragtige ruimte waarin hulle hul passie met ons deel. Gaan bederf jouself gerus met ’n Sondagmaal by Pluim Eatery! (Deur Robert Koen)

1 Comment on "Fynproewerskos in styl"

  1. Jacques du Preez | 17/03/2022 at 09:25 |

    Great review.

Comments are closed.