SA-fietsrysterre kom hier bymekaar

Aksie tydens die padfietskampioenskap by Highgate Volstruisplaas buite Oudtshoorn. Onder: Stefan de Bod, bekende Suid-Afrikaanse fietsryer van die EF Education-EasyPost-span, het die elite mans-afdeling in die individuele tydtoets gewen Foto’s: Stefan Skapie Goosen

DIE Suid-Afrikaanse Padfiets-, Tydtoets- en Kriteriumkampioenskap is tussen 8 en 12 Februarie vir die vyfde keer op Oudtshoorn aangebied en het groot name in die sport van regoor die land hierheen gelok.

Een van die bekendste name tans in die sport, Stefan de Bod – wat deel was van die 2020 SA Olimpiese fietsryspan en wat ook aan die Tour de France deelgeneem het – het langs plaaslike ryers soos Mike Lombard en die jong, talentvolle Charlissa Schultz kom deelneem.

Schultz is onlangs gekies om deel te neem aan die CAC African Track Champs, wat van 5 tot 9 Maart in Kaïro, Egipte plaasvind.

Die byeenkoms is vanjaar weer eens deur Eden Fietsry aangebied.

Qondisa Ngwenya, president van Fietsry Suid-Afrika het Eden Fietsry persoonlik bedank vir die puik manier waarop die byeenkoms, die “beste kampioenskap wat hy nog bygewoon het”, aangebied is.

Die fietsry-aksie het reeds Woensdagmiddag afgeskop op Oudtshoorn met ’n kermesse-wedren wat in die gemeenskap plaasgevind het.

Dit is ook volgens Sonja Schultz, sekretaresse van Eden Fietsry die eerste keer dat daar ’n kermesse by ’n nasionale Kampioenskap ingevoeg is.

Ontwikkelingsryers is ook ’n kans gegee om deel te hê aan die fietsryfees, wat duisende mense na Oudtshoorn gelok het.

“Dit is die eerste keer dat lede van die gemeenskap hierdie geleentheid gegun is gedurende ’n nasionale kampioenskap,” het Schultz bygevoeg.

Corné Bence van Wes-Kaap Fietsry het gesê dat Fietsry SA baie in hul noppies was met die aanbieding van die byeenkoms en dit as die “beste SA’s ooit” bestempel het.

“Dit is wonderlik as mens dink dat ons eers in Oktober 2022 laat weet is dat ons die SA’s gaan aanbied. Sonder die borge, munisipalitiet, departement van kultuursake en sport en die verkeersdepartement sou ons dit nie so suksesvol kon aanbied nie,” het hy gesê.

Hy het gesê dat Eden en Oudtshoorn se naam hoog gehou is, en dat die standaard van die byeenkoms uitstekend was. Vanjaar het ook die meeste inskrywings oot gesien.

Die kategorie-wenners vir die eerste dag was in die elite-mans Reinhardt Janse van Rensburg en in die elite-dames Hayley Preen.

Dag twee van die kampioenskap het uit die individuele tydtoets bestaan vir para-ryers en elite- en junior-dames. Die wenners in die elite-dames-kategorie was Zanri Rossouw.

Op dag drie het die elite-mans hul tydtoetse aangepak en daar het Stefan de Bod die afdeling gewen. Mike Lombard het brons in sy ouderdomsgroep ingepalm.

Die padwedrenne het op dag vier afgeskop met al die dames-kategorieë. Charlissa Schultz het derde gekom in die o.23-wedren terwyl die elite dames-wedren deur Frances Janse van Rensburg gewen is.

Op dag vyf het die mans meegeding en die gesogte elite mans-titel is deur Travis Stedman gewen.

“Ons as Eden Fietsry wil net graag al die fietsryers bedank wat van heinde en verre gereis het om aan die kampioenskap te kom deelneem asook ons gelukwensing aan al die ryers,” het Schultz gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)