Rol van ’n pa in kind se lewe van uiterste belang

Van links tydens Saterdag se manne-ontbyt in die Thusongsentrum op Oudtshoorn is past Hans Koelmen, Patrick Blaauw, Phillip Seroux, biskop Menno Rose en Moses Mthethwa. Foto: Garnett Wicomb

DIE Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) het Saterdag (5 Februarie) ’n baie suksesvolle manne-ontbyt in die Thusongsentrum in Bongolethu, Oudtshoorn gehou met die tema: Die rol van ’n pa in ’n kind se lewe.

Die geleentheidsspreker, biskop Menno Rose van Kaapstad, het in sy toespraak gesê dit is vaders se primêre verantwoordelikheid om te beskerm, te dissiplineer en te voorsien. Volgens Rose is dit tans ’n tendens in gemeenskappe dat pa’s afwesig is in hul kinders se lewens.

“Volgens die Bybel is dit pa’s se verant­woor­­delikheid om hul kinders op te voed en te onderrig in die rigting wat hulle moet loop. As ’n pa is jy jou kind se eerste onderwyser en mentor, en jou gedrag sal deur hulle nagevolg word,” het hy gesê.

Patrick Blaauw, voorsitter van die Oudtshoorn Gemeenskaps Polisiëringsforum (GPF), het gesê afwesige pa’s veroorsaak ’n tsunami van uitdagings in huishoudings en gemeenskappe. “Kinders het dan nie ’n rolmodel nie. Hulle verloor hoop, ont-wikkel ’n minderwaar­dig­heidskompleks en word gou negatief beïnvloed.”

Past Hans Koelman van die Men for Change-beweging het sy storie gedeel van hoe hy as ’n pa die pad van misdaad geloop het totdat hy ter dood veroordeel is. Hy het ’n beroep op pa’s gedoen om nie stil te bly wanneer hul kinders verkeerd optree nie. “Omarm u kind, toon liefde en doen dinge saam met hulle.” (Deur Garnett Wicomb)