Nuwe landboubylaag vir 2022

Klein Karoo Agri se vulstasie en supermark is oop vir die breër Oudtshoorn-gemeenskap.

WELKOM by die Klein Karoo Agri Landboubylaag, wat vir die voorsienbare toekoms die kollig op die landbounywerheid van die Klein Karoo sal laat val en diegene in die bedryf gaan inlig en op hoogte hou van belangrike kwessies en produkte.

Maar dit is nie al nie! Hierdie bylaag, nes Klein Karoo Agri (KKA) self, is gemik op die groter Klein Karoo-gemeenskap, nie nét op landbouers en diegene wat in die landboubedryf swoeg en sweet nie. Die bylaag, wat een keer per maand in Die Hoorn sal verskyn, sal ook interessante nuusbrokkies en stories oor dié belangrike bedryf met die groter gemeenskap deel.
KKA se bedryfsveld sluit takke in Oudtshoorn, De Rust, Ladismith, Calitzdorp, Prins Albert, Beau­fort-Wes en George in. Hul produkte en diens­te word aan volstruis-, groentesaad-, skaap-, bok-, suiwel-, bees-, sagtevrugte- en akkerbou­boere verskaf.

Al was 2021 ’n moeilike jaar vir die bedryf; met die voortslepende droogte, die Covid-pandemie en onluste in dele van die land, kon KKA uithou en aanhou. Groot dele van die maatskappy se bedie­ningsgebied het egter teen die einde van dié uitdagende jaar reën ontvang, en ten spyte van die jaar se unieke uitdagings, was dit tog ’n goeie jaar vir KKA. Die groep het kostedoeltreffendheid vir hul produsente hoog op hul lys van prioriteite geplaas, en sodoende gehelp waar moontlik.

Uit 21 verskillende besigheidseenhede was slegs een nie in die 2021-boekjaar winsgewend nie, wat bewys hoe die maatskappy – nes hul produsente en kliënte – aangepas het in ’n vinnig veranderende en kompeterende omgewing, veral wanneer mens die huidige uitdagende landbou-omstandighede in ag neem. Dit het KKA ook in staat gestel om te verseker dat die regte produkte op die regte tye vir hul produsente en kliënte beskikbaar is.

Ander aspekte van die bedryf en dienste wat verskaf word, wat baie aandag by KKA geniet, is die fokus op volgehoue goeie diens en verant­woordelike voorraadbestuur.

Dit beteken dat die standaardisering en aanbie­ding van volledige produkreekse binne KKA se takke ’n groot prioriteit bly. Die maatskappy poog om voortdurend hul produkaanbieding aan hul produsente te verbeter om kliëntetevredenheid te verseker.

Ten spyte van die droogte vaar KKA se vee-vei­lings en verhandelingsafdeling goed. By Karoo Lusern se derde vetvee-slagveiling in November 2021 is meer as 5 400 vee met groot sukses op­geveil. KKA bied gereeld ook ander veilings aan, waarby boere en die publiek betrokke kan raak.

Die maatskappy het ook groei getoon. Onlangse langtermynvennootskappe wat met verskeie geselekteerde verskaffers van landboumasjinerie en -toe­rusting gesluit is, werp vrugte af, met die gevolg dat KKA se meganisasie-afdeling uitgebrei het en buiten die Oudtshoorn-tak nou ook ’n tak in George geopen het.

Dit stel KKA in staat om nie net waarde te kan toevoeg vir hul produsente nie, maar maak ook deel uit van hul diversiviseringsplan om risiko’s te versprei.

Moet ook nie vergeet van hul vulstasies nie – onder meer Caltex in Parkweg op Oudtshoorn, En­gen in Voortrekkerweg op Oudtshoorn; Caltex op De Rust en Reinders Garage Total op Ladismith.

Met al bogenoemde dienste en meer beskikbaar, insluitend ’n supermark wat oop is vir die groter gemeenskap, is KKA dié eenstop-iets-van-alles instansie om te besoek.

Terblanche du Plessis, KKA se besturende di­rek­teur, sê in sy Desember 2021-nuusbrief hulle streef daarna dat elke produsent en kliënt moet ervaar dat KKA sy of haar eie besigheid is. “Soos KKA se leuse: ‘JOU EIE!’. Ons fokus daarop om aan u uitstekende kliëntediens en kompeterende pryse te bied. Baie dankie vir u ondersteuning en lojaliteit. Julle is deel van KKA se suksesverhaal.” (Deur Stefan Skapie Goosen)