Dramatiese agteruitgang na sluiting van landelike skole

Deur Poem Mooney

Met die toemaak van die landelike skole rondom Oudtshoorn en sy onmiddellike omgewing deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het gebiede rondom hierdie instansies dramaties agter­uitgegaan.

Nie net is die skole permanent gesluit nie, maar ook die ontspanningssentrums is gesluit – dié bymekaarkomplek waar skoolkonserte gehou is, speletjiesaande, sangaande en jaarfeeste.

Ek onthou nog die families wat rondom die skole gewoon het. Die name en vanne van die kerkraadslede, die kosters en die wyksouderlinge kan ek nog helder in my gees oproep.

Soos dit maar altyd my gewoonte is, het ek ’n lys van die eerstydse plaasskole gemaak. Gewonder wat die WKOD met die toelatingsregisters gemaak het, want in daardie bronne sou jy die fa­milies kon identifiseer wat sinoniem met die plase en landelike skole was.

Ander belangrike bronne sou die doopregisters en lidmaatregisters van die kerk of die betrokke kerke wees, want die meeste van hierdie plaas­skole was kerkskole.

Elkeen van hierdie skoolgemeenskappe het ’n wonderlike ontspanningsgeskiedenis gehad. Met die sluiting en die sloping van die eens trotse geboue is hierdie geskiedenis daarmee heen.

Ek wil vandag die sluier lig oor die gemeenskap wat in die Stofkamp gebly het.

Die Stofkamp was deel van Bakenskraal se skoolgemeenskap.

Ek ont­hou die skooltjie in dié area. Wyle meester Norman Muller het daar skoolgehou. Daarna het Meester Charlie du Plessis die hoof geword en na hom het my broer, Samuel Mooney, die prinsipaal geword.

In die stofkamp het die Ayfords se nasate ook skoolgegaan. Ouma Hannatjie Ayford was die stammoeder. Aunt Kaatjie le Roux en haar kroos. Oom Piet de Koker se ouers. Oompie en Tannie de Koker. Oom Piet en sy broers het almal Bybelname gehad.

Ouma Hanna het welsynkinders aangeneem. Hulle was Botjie, Migal en Hekkie. Hulle was be­kendes in die omgewing van Stofkamp, want hulle was kleiner as die gewone mense. Dwergisme is dit genoem. Hulle het ’n broer gehad wat saam met my op skool was. Fransie was sy naam, en hy was van ’n normale lengte.

Ouma Hanna het hierdie kinders grootgemaak soos haar eie. Sy was lief vir hulle en hulle was goed gedissiplineer.

Naby Stofkamp was die watergat waar die kinders gewoon en na hartelus baljaar het. Baie mense het in daardie watergat verdrink, maar die Stofkamp se kinders was hierdie rampspoed ge­spaar. Dit is daar waar die watermeid-stories gebore is.

Die skool is later uit hierdie gebied verskuif na ’n ander gebied in Bakenskraal.

My broer, sy vrou en die ander onderwysers het saamgetrek, en hulle het daar onderwys gegee totdat die WKOD ook hierdie geskiedkundige kerkskool gesluit het.

Ek onthou hoe ons stories kon vertel van die Stofkamp, van Bakenskraal se kerkgemeenskap. Hoe die kinders deelgeneem het aan sangkompetisies, atletiek en ander skolesport.

Hierdie plaasskool bestaan nie meer nie, maar daar is nog die hoogtepunte wat in foto’s vasgevat is.

Dit is die geheueprentjies, wat ons kan terugroep in die gees.

Daar is nog ander skole ook wat toegemaak is. Die data in die toelatingsregister van die skole is ’n bewys van die eens trotse gemeenskappe wat bestaan het, en die nageslagte wat tans nog in Oudtshoorn woonagtig is.