Die Garden Route Badgers-vrouespan het dit weer gedoen. Die Badgers het, danksy ’n rekordbrekende, ononderbroke vennootskap van 151 lopies om die 3de paaltjie tussen Julia Hoal en Izel Cilliers, die Dolphins met 8 paaltjies in hul Hollywoodbets Pro50-reekswedstryd by Kingsmead in Durban op Saterdag verslaan.
Hierdie oorwinning was ongetwyfeld die grootste prestasie vir vrouekrieket in die SWD. Twee naweke gelede het die Badgers-vroue ook die Westelike Provinsie oorrompel.
Die Dolphins, wat eerste gekolf het, was in die moeilikheid met 23/3, maar ’n goeie vennootskap van 116 lopies om die 6de paaltjie tussen voormalige Badgers-speler, Miceala Andrews 74 (van 68 balle) en Shesnie Naidu (55), het die tuisspan na ’n mededingende 243/6 geneem.
Nicolien Janse van Renburg (2/35) en Yolandi Potgieter (2/30) het elk twee paaltjies geneem.
Die Badgers se lopiejaagtog is geanker met ’n briljante eerste honderdtal vir Julia Hoal wat 105 nie uit nie (148 balle; 12×4) aangeteken het.
Sy het waardevolle ondersteuning ontvang van die Ierse internasionale, Gabby Lewis (47) en Izelle Cilliers 70* (75 balle; 1×6, 9×4).
Die Pro20-wedstryd Sondag teen die Dolphins het sake omgekeer met ’n oorwinning met 5 paaltjies.
Die Badgers, wat eerste gekolf het, was in groot moeilikheid met 25/5, maar Izel Cilliers (52) en Nadine Moodley het teruggeveg om ’n verdedigbare totaal van 127/7 te verseker.
Die Dolphins (130/5) het die oorwinning behaal met nog ’n boulbeurt oor. Die opgesomde puntekaarte is: Pro50-wedstryd DOLPHINS 243/6 – 50 boulbeurte (Miceala Andrews 74, Seshnie Naidoo 55, Yasmeen Kahn 39, Nicolien Janse van Rensburg 2/35, Yolandi Potgieter 2/30) GARDEN ROUTE BADGERS 244/2 – 46.2 boulbeurte (Julia Hoal 105, Izel Cilliers 70, Gaby Lewis 47) Garden Route Badgers het met 8 paaltjies gewen.
Pro20-wedstryd GARDEN ROUTE BADGERS 127/7 – 20 boulbeurte (Izel Cilliers 52, Nadine Moodley 25, Alexandra Candler 2/19) DOLPHINS 130/5 – 19 boulbeurte (Courtney Gounden 27, Asakhe Nyovane 25, Yasmeen Kahn 20, Nicolien Janse van Rensburg 2/19). Dolphins wen met 5 paaltjies.
Rekordvennootskap verseker oorwinning vir Badgers vrouespan
Foto verskaf