PSP wen sakerolballiga

Poffer Ungerer is 2019 se Mans Novice Speler van Oudtshoorn Rolbalklub. Hy het die naaswenner Charl Meyer in die uitspeelronde geklop. (Foto verskaf.)

Skwik Luyt is 2019 Vroue Novice Kampioen van Oudtshoorn Rolbalklub. Die naaswenner was Ranjee Branscombe. ’n Rolbalspeler is ’n novice vir die eerste drie jaar wat sy of hy rolbal speel.

Justine Eaglestone (middel), president van die Oudtshoorn Rolbal­klub, saam met PSP Timbers se span wat die Oudtshoorn Sakeliga gewen het. Hulle is van links André Taljaardt, Shane van der Schyff, Bles Goussard (skipper) en Adriaan van Greunen. Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
PSP Timbers is na ses weke se spel elke Woensdagaand Oudtshoorn Rolbalklub se sakeligakampioene vir 2019.

Die PSP-span bestaande uit André Taljaardt, Shane van der Schyff, Bles Goussard (skipper) en Adriaan van Greunen het met 24 punte bo-aan die punteleer geëindig.

Goussard wat in 1985 die enkelspelkampioen van die rolbalklub was, sê hy het die afgelope 20 jaar nie meer gereeld rolbal gespeel nie.

Een lid van die span, Van der Schyff, het eers vanjaar begin rolbal speel.

“Ons skryf ons sukses vanjaar daaraan toe dat ons ’n wonderlike span was wat elke Woensdagaand gekliek het. As die een nie daar was nie, was die ander een daar,” sê Goussard.

Oudtshoorn Engineering, Van Reede 2, en Alert Patrol was met 20 punte elk onderskeidelik tweede, derde en vierde. Eljada Kairos was met 18 punte vyfde.

Altesame 48 spanne (192 spelers) het aan hierdie gewilde sakeliga deelgeneem wat steeds in gewildheid toeneem.