Betogers versper Dinsdag die N12 buite Oudtshoorn. Dit was die tweede agtereenvolgende dag wat die pad versper is. Foto verskaf
DIE N12 tussen Oudtshoorn en Dysselsdorp was Maandag en Dinsdag weer eens vir lang rukke gesluit as gevolg van protesoptrede.
Maandag en Dinsdag se ongelukkigheid het gehandel oor behuisingskwessies.
’n Groep mense wat bekend staan as die Backyard Dwellers of Hope, het die N12 met stukke hout, boomtakke en buitebande versper en dit aan die brand gesteek.
Dit is nie die eerste keer dat dié nuut geboude stuk pad deurloop en beskadig word deur ongelukkiges nie.
Verskeie protesaksies daar deur inwoners van die omgewing wat aangedring het op werk by die padbouprojek, het ook al by vorige geleenthede gelei tot die sluiting van die pad.
Die Backyard Dwellers of Hope het Maandag onttrek nadat die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, hulle te woord gestaan het.
Die groep dring daarop aan dat gehoor gegee moet word aan hul versoeke vir behuising.
Die munisipaliteit het Dinsdag aangedui dat gesprekvoering tussen hulle en die groep ontevredenes plaasvind.
Die groep het voorts Dinsdag ’n stuk grond in Voortrekkerweg langs die Oudtshoorn Gholfbaan skoongemaak en daarna ’n struktuur daar opgerig.
Die munisipaliteit het nie teen druktyd gereageer op ’n navraag van Die Hoorn oor die struktuur en of dit toegelaat gaan word nie.