Perdehoewe dreun die naweek op Oudtshoorn

Foto: Angelique Erasmus

Perdeliefhebbers kan regmaak vir die klank van perdehoewe dié naweek wanneer die Outeniqua Uithouritklub weer ’n perde-uithourit net buite Oudtshoorn, op Rooiheuwel en Kleyns-poort aanbied.

Die aksie begin Saterdag vroegoggend op die plaas Die Denne van Ebon le Roux, waar die Hartland stalle geleë is. Die eerste perde en hul ruiters pak die 80 km-roete aan nes die son opgekom het, om 07:30, en dié wat die korter 40 km-roete aanpak, vertrek om 08:00.

Sowat 30 perde en hul ruiters word vir hierdie rit verwag.

Die klub werk reeds hard aan ’n groot internasionale perde-uithourit wat op 19 en 20 September by die Kansa Krale, buite Oudtshoorn sal plaasvind. Hierdie rit gaan nie net plaaslike talent wys nie, maar ook internasionale deelnemers lok – met byna 100 ruiters en perde wat hul perdryvernuf en uithouvermoë hier kom meet.

Hou gerus Die Hoorn dop vir meer besonderhede oor dié opwindende ritte in die Klein Karoo. (ANGELIQUE ERASMUS)