Opwindende nuus vir Oudtshoorniete, is dat die gewilde sport, Padel, een van die dae op Oudtshoorn gespeel gaan word. Die bane sal by Wesbank-tennisklub op die hoek van Buitekant- en Kerkstraat gebou word, en die bouwerk sal teen middel Oktober voltooi wees.
Padel, wat soortgelyk is aan tennis is, word op ’n kleiner baan as ’n dubbele tennisbaan gespeel. Dit kan dubbel- of enkelspel wees. Die puntetelling is dieselfde as tennis, alhoewel die reëls verskil. Die raket het nie snare soos tennis- of muurbalrakette nie, maar is solied met gaatjies. Balle kan ook soos met muurbal, van die muur af gespeel word.
Hierdie gewilde spel se oorsprong is in Mexiko en teen 2023 was daar reeds meer as 25 miljoen spelers in 90 lande.
“Ons is baie opgewonde oor die twee Padelbane wat by die tennisklub gebou word, asook al die vooruitsigte wat dit bring vir ons klub en dorp. Hier is baie nuwe opwindende verwikkelinge,” vertel Jacques de Beer, voorsitter van die Wesbank Tennisklub.
Vir meer inligting, kontak gerus vir Yolandi van der Westhuizen by 083 380 7210. (ANGELIQUE ERASMUS)
Padel-sport eersdaags in Oudtshoorn
Bo: Cobus Diepraam (onder voorsitter, Wesbank Tennisklub) Ilse van der Westhuizen, Yolandi van der Westhuizen en Jacques de Beer (Voorsitter, Wesbank Tennisklub), staan op die grond waar Oudtshoorn se twee Padelbane eersdaags gebou gaan word, by die Wesbank Tennisklub. Foto verskaf.