Pacaltsdorp United vier derde agtereenvolgende bekertriomf

Foto’s verskaf.

Pacaltsdorp United Krieketklub het Sondag, 5 Oktober, geskiedenis gemaak toe hulle vir die derde agtereenvolgende keer die beker gewen het vir die SWD (Suidwestelike Distrik) T20 ná ’n spannende eindstryd teen die Knysna Cavaliers.

Die toernooi, wat op 13 September afgeskop het, het 32 spanne gelok wat in agt groepe van vier spanne elk meegeding het.

Ná die groepfase het Union Stars, Knysna Cavaliers, Plett Pioneers, SWD o.19, Pacaltsdorp United, Beaufort West, Sussex en Pirates United boaan hul onderskeie groepe geëindig.

In die halfeindstryde het Knysna Cavaliers vir Sussex geklop, terwyl Pacaltsdorp United die SWD o.19-span uitgeskakel het.

Die eindstryd tussen die Knysna Cavaliers en Pacaltsdorp United het tot die laaste boulbeurt gespook, met net drie lopies wat die spanne geskei het. Pacaltsdorp het eerste gekolf en 138 lopies aangeteken.
Die Cavaliers het dapper geantwoord, maar kon slegs 135/8 aanteken – drie lopies kort van oorwinning.

Pacaltsdorp United het goeie vertonings gelewer met Anoxolo Kitshini en Liyabona Malife wat albei 25 lopies aangeteken het, terwyl Charl-Francois Marais 24 lopies bygedra het. Met die boul-werk het Francois Bonthuys 4/25 aangeteken en 2/15 vir Stefan May.

Knysna Cavaliers het dapper teenstand gebied, met Mihle Dingiswayo wat 35 lopies aangeteken het en Hayden Sweet 32, terwyl Eliah Thorne 2/36 aangeteken het.

Anoxolo Kitshini is as Speler van die Wedstryd aangewys vir sy uitstekende vertoning.