Ovaalbaan-wedren ’n eerste in ses maande

Aksie tydens een van die 2.1 Gemodifiseerde sedanmotor-wedrenne op Oudtshoorn se ovaalbaan, Redrock Raceway. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIT was Saterdag ’n kwessie van voet-in-die-hoek op Oudtshoorn vir ovaalbaanrenjaers van regoor Suid-Afrika. Al kon aanhangers van dié motorsport nie om die baan vergader soos oudergewoonte nie, was dit ’n aksiebelaaide dag

Volgens Dirk van der Westhuizen, die Oudtshoorn Motorklub-voorsitter en organiseerder van die wedrenne op die Arnold de Jager Ovaalrenbaan by Oudts­hoorn, deesdae ook bekend as die Redrock Raceway, was daar in Maart vanjaar laas ’n wedren op die baan, en voor dit een op George in Februarie.

Met Saterdag se wedren was daar 74 renmotors wat in sewe klasse deelgeneem het. Renjaers het nie net van Oudtshoorn en die res van die Tuinroete af gekom nie, maar van heinde en ver, van Oos-Londen tot Joubertina, en Kaapstad tot Uniondale.

“Die punte wat elke drywer van die streek tydens die wedrenne verwerf, word bymekaar getel om Desember die SWD-kampioen in elke klas aan te wys. Dit was dus ’n SWD Kampioenskapwedren,” het Van der Westhuizen gesê.

Die uitslae in elke klas lyk soos volg:

Mini-klas

  1. JP du Plessis – Plettenbergbaai; 2. Zian du Plessis – Plettenbergbaai; 3. Quade de Lange – Oos-Londen.
    SWD-ontwikkelingsklas
  2. Ehrard Visagie – Stilbaai; 2. Jacques Combrinck – Mosselbaai; 3. Tyler Mansfield – Oudtshoorn.
    1660-klas
  3. JP du Plessis – Kaapstad; 2. Wayne Skinner – Mosselbaai; 3. André Nel – Oudtshoorn.
    2.1 Gemodifiseerde sedanmotors
  4. Burger van der Westhuizen – Oudtshoorn; 2. Alistair Simpson – George; 3. Christopher Burisch – Mosselbaai.
    “Hotrods”
  5. Han-Koch Brand – Langebaan; 2. Shaun Potgieter – Mosselbaai; 3. André Fouché – Knysna.
    “Heavy Metals”
  6. Francois Smit – Worcester; 2. Corné Oosthuizen – George; 3. Nadia Jubber – George.
    V8-klas
  7. Manfred Oehl – Worcester; 2. Lucius Fourie – Oudtshoorn; 3. Marius Combrinck – Mosselbaai.

    Die volgende wedren sal op 24 Oktober in George plaasvind, dan weer op 21 November in Oudtshoorn, en op 19 Desember in George. (Deur Stefan Skapie Goosen)