Oudtshoorn se Anel stel nuwe rekord vir George 6 Peaks

Anel Spies van Wyk op een van die ses pieke, Groenkop. Foto verskaf

’N VROU van Oudtshoorn het Vry-dag (25 September) die vroue-rekord vir die uitmergelende George 6 Peaks-uitdaging met byna vier minute verbeter.

Die uitdaging behels dat deelnemers die ses hoogste pieke in die George-omgewing op een dag te voet aanpak. Deelnemers moet ook te voet van een piek na die volgende piek draf of stap.

Anel Spies van Wyk (41) van die Nedbank Atletiekklub sê sy het haarself bederf vir haar verjaarsdag (24 September) en besluit om die uitda-ging Vrydag te voltooi.

Volgens Anel kan ’n mens van die uitgesette roetes, of korter, moeiliker roetes van jou keuse volg.

Die pieke is Vensterberg (1 247 m bo seevlak), die Losberg (813 m), Cradock-piek (1 532 m), George-piek (1 276 m), Tierkop (766 m) en Groenkop (606 m).

Sy het die uitdaging in 8 ure 28 minute en 18 sekondes voltooi, met Eddie Mouton as haar hardloopmaat vir die dag.

“Hy het my baie gemotiveer en moed ingepraat in tye wat die berge soos ’n dubbele berg gevoel het,” vertel sy.

Anel is ’n kranige atleet en neem graag deel aan wedlope van verskillende afstande en soorte.

Sy het tydens die Covid-19-inperking, toe sportbyeenkomste veral vir-tueel aangebied is en deelnemers tuis kon hardloop, baie besig gebly.

Sy het die Two Oceans oor 58 km in ’n tyd van 5:44:30 voltooi.

Op 18 Junie het sy die Comrades­halfmaraton oor 45 km gehardloop en 18de uit 4805 vrouens geeïndig.

Op 29 Augustus het sy die Schoemanshoek 21,1km gehardloop en was eerste oor die wenstreep.

Sy hou haarself gereeld besig met wedlope in die omgewing.

“Ek is baie tevrede met my hardlopery in die Covid-19-tyd.

“Ek besef ek sal volgende jaar, wanneer wedlope weer begin plaasvind, baie harder moet werk en meer gereeld moet oefen, maar voorlopig geniet ek dit om te hardloop waar, wanneer en hoe laat ek wil. Dit is wat lekker is,” skerts sy.

“Die 6 Peaks was wel die grootste uitdagende vanjaar gewees, en ek geniet uitdagings baie!”

Al waaroor sy nou wonder, sê sy met ’n breë glimlag, is watter tipe “crazy” uitdaging sy vir haar volgende verjaarsdag gaan aanpak. (Deur Stefan Skapie Goosen)