Dié Oudtshoorniete het geskitter tydens die uitmergelende wedren. Van links is Fienie Barnard en Yolande de Villiers, onderskeidelik 2de en 1ste in die 361km-vrouewedren; Louis Visser, 1ste in die 180 km- manswedren; en Chantelle Terblanche, 1ste in die 180 km-vrouewedren. Foto’s: Shift Media
DIE afgelope naweek het gesorg vir groot opwinding in die fietsrygemeenskap met die tiende aanbieding van die 36One MTB Challenge bergfietswedren op Oudtshoorn. Fietsryers van die dorp het nie op hulle laat wag om hul staal te toon nie.
Die formidabele Yolande de Villiers, wat op 1 Mei as die wenner van die 2021 South African Cross-Country Marathon Championships (SAXCMC) gekroon is, het onder die vroue koning gekraai, met nóg ’n Oudtshoorniet, Fienie Barnard, wat die tweede plek in die 361 km-vrouewedren behaal het. Bianca Cooper was derde.
De Villiers, wat vanjaar die eerste keer die 361 km solo-wedren aangepak het en sewende algeheel klaargemaak het, het ook die 2018-vrouerekord verbeter met haar tyd van 15 ure, 11 minute en 22 sekondes.
In vanjaar se wedren het die solo-mans ook behoorlik gewedywer om die topposisie, en het die top drie solo-mans een sekonde uitmekaar oor die wenstreep gejaag.
Konny Looser van Switzerland het daarvoor gesorg dat die 2019-mansrekord van Ramses Bekkenk ook gespat het met ’n tyd van 13:26:14, Christiaan Janse van Rensburg was tweede en Dirk Coetzee van Namibië derde.
Volgens die organiseerders, Dryland Event Management, was Braam Wannenburg van Oudtshoorn ’n groot gunsteling by vanjaar se wedren, en kon hy daarin slaag om kort op die hakke van die top drie in die vierde plek te eindig.
Die 180 km-kategorie is vanjaar gedomineer deur Oudtshoorniete. Die jong Louis Visser wat reeds jare lank naam maak in padfietswedren-kringe het die manstitel verower, en Chantelle Terblanche die vrouetitel.
Dryland sê dat deelnemers aan hierdie kategorie geensins hoef terug te staan vir dié wat aan die 361 km-wedren deelneem nie, omdat die roete wat in die 180 km-wedren gery word, juis van die mees uitdagendste dele van die volle wedren is. Rooiberg en ook die Drie Susters het gelê en wag vir hierdie fietsryers.
In die 361 km-afloswedrenne het spanne van Oudtshoorn ook naam gemaak. Die Cycle Addict-span het ’n derde plek in die tweepersoon-afloswedren behaal, terwyl twee Gearup Sport-spanne onderskeidelik derde en vyfde plek losgeslaan het in die vierpersoon-afloswedren.
• Die 36One MTB Challenge bergfietswedren word aangebied deur Dryland Event Management en 36One Asset Management as titelborg.
Die uitmergelende bergfietswedren het vanjaar meer as 600 fietsrygeesdriftiges van regoor die wêreld gelok om deel te neem.
Volgens die organiseerders keer 50% van deelnemers elke jaar terug om te kan spog met die prestasie en doel om een van Suid-Afrika se langste enkelskofwedrenne klaar te maak.
Soos een van die deelnemers gesê het: “Dit is amper soos ’n verslawing; terwyl jy deelneem en elke hindernis in jou kop en op die roete aandurf, besluit jy dit is die laaste keer, net om na die tyd weer in te skryf vir volgende jaar.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
