Oudtshoorniete blink uit by Wes-Kaap Padfietstydtoets

Bo: Willem Serfontein het die derde plek behaal in die veterane 50-54 jaar individuele tydtoetskategorie. Onder: Charissa Shultz van Oudtshoorn het die o.23-afdeling vir 100km gewen. Foto’s: Chandré Schultz

TWEE Oudtshoorniete, Charlissa Shultz en Willem Serfontein het Saterdag, 14 Januarie by die 2023 Wes-Kaapse padfietstydtoetskampioenskap in die Wynland-distrik naby Kaapstad uitgeblink. Dit is die tweede jaar dat Kaap Wynland-fietsryklub die kompetisie aanbied.

Sowat 350 fietsryers van regoor die Wes-Kaap het deelgeneem met Eden wat 19 podiumplekke verower het.

Shultz het weggestap met die 100km o.23 Wes-Kaap-padfietskampioentitel, en het die wedren in ’n uitstekende 3 uur en 30 minute voltooi met ’n gemiddelde spoed van 32.7 km p/u.

Serfontein het die derde plek in die veterane (50-54 jaar) individuele tydtoetskategorie ingepalm. Hy het die 20 km in ’n tyd van 34 minute kafgedraf met ’n gemiddelde spoed van 35.12 km p/u.

“Hoewel dit baie warm was, glo ek dit was ’n goeie oefenlopie vir die SA’s wat in Februarie in Oudtshoorn aangebied word,” het Corné Bence, President van Wes-Kaap Fietsry aan Die Hoorn vertel.

Fietsryers soos Stefan de Bod, wat voorheen al deelgeneem het aan die Tour de France, Goldy Fuchs, ’n Olimpiese fietsryer asook ’n groot aantal plaaslike fietsryers van Oudtshoorn en lede van die Bridgton Fietsryklub, het ook deelgeneem. “Ons is trots op al ons Eden- en Oudtshoorn-fietsryklublede wat deelgeneem het,” sluit Bence af. (Deur Angelique Erasmus)