Oudtshoorniete blink uit by nuwe perde-uithourit

Drie Oudtshoorniete in aksie tydens die BKB Cooper-uithourit. Hulle is van links Lizelette le Roux op haar perd Mazurk wat sy self geteel het, Ankhe Müller op haar Arabierperd Prins Echo en Angelique Erasmus op haar Arabierperd Kanna-Shalom. Al drie ruiters het Saterdag die uithourit oor 40 km voltooi. Foto: Picsieb Photography

DIE BKB Cooper-uithourit tussen Mosselbaai en Albertinia, ’n nuwe uithourit op die uithouritkalender, het meer as sestig ruiters gelok.

Twaalf ruiters van Oudsthoorn het die afgelope naweek aan die rit deelgeneem, en binne die toegelate tyd klaargemaak.

Op Vrydag (23 April) kon ruiters ’n 40 km-rit aanpak, en Saterdag (24 April) kon ruiters kies tussen die 40 km-, die 80 km- of die 120 km-rit.

Ruiters het in verskillende gewigsafdelings meegeding.

Natasja Lareman van Oudtshoorn en haar perd Daybreak Ihab was tweede in die liggewigafdeling van die 80 km-rit in ’n tyd van 04:40:50. Nog ’n Oudtshoorniet, Fanus Cilliers, en sy perd Sheikh Scirocco het die derde plek behaal in die swaar-gewigafdeling oor 80 km behaal in 05:18:28.

Volgens deelnemers was die nuwe baan nie net ’n uitstekende tegniese baan nie, maar het die weer ook mooi saamgespeel, met ruiters en hul perde wat die koel weer geniet het. (Deur Angelique Erasmus)