’N 18-JARIGE man is Sondagmiddag (25 April) in Ladismith in hegtenis geneem in verband met die beweerde verkragting van ’n 14-jarige meisie in ’n huis in Langstraat in Amalienstein in die vroeë oggendure.
Amalienstein is sowat 23 km vanaf Ladismith op die R62 na Calitzdorp geleë.
Hy het Maandagoggend in die Ladismith Landdroshof verskyn op aanklag van verkragting.
Volgens kapt Malcolm Pojie, polisiewoord- voerder vir die Suid-Kaap, dui voorlopig inligting daarop dat die meisie omstreeks 03:30 Sondag-oggend wakker geword het en besef het die verdagte het haar verkrag.
Die verdagte en sy ma was gaste van die meisie se ma. Die meisie en die seun se ma het ’n bed gedeel, maar die seun het op ’n ander bed gelê toe hulle gaan slaap het.
Die meisie het die seun se ma wakker gemaak en haar vertel wat gebeur het.
Die meisie en haar ma het Sondagoggend die verkragting by die polisie gaan aanmeld.
Die bevelvoerder van die Eden Kluster, genl maj Oswald Reddy, het die polisiebeamptes geprys wat betrokke was by die vinnige inhegtenisname binne ure nadat die misdryf gepleeg is.