REGAN RHODE van Oudtshoorn is een van vyf nuwelinge wat die SWD senior krieketspan tans in ’n provinsiale kriekettoernooi in die Paarl en Stellenbosch verteenwoordig. Dit is Rhode se debuut vir die SWD.
Regan, ’n belowende draaibalbouler (leg-spinner), het die oog van die SWD-keurders tydens intergroepwedstryde gevang en sy plek in die span verseker. Saam met die res van die SWD-vyftienmanspan sal hy in twee driedagwedstryde en drie een-dagwedstryde teen spanne van die Boland, Grens en KwaZulu-Natal speel in groep B. Die toernooi het reeds Maandag (22 Februarie) begin en duur tot 7 Maart.
Die toernooi word in ’n bioveilige omgewing gespeel om die veiligheid van die spelers te verseker.
Volgens Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD Krieket, is hierdie die enigste krieketsmakie wat die span vanjaar sal kry as gevolg van die Covid-19-pandemie. Hy sê die span se nuwe afrigter, Alan Kruger, en die spelers het die beste van die huidige situasie gemaak en hulleself goed voorberei met ’n reeks intergroepwedstryde.
Rhode sal saam met die nuwe kap-tein Kelly Smuts, Simon Khomari, Sintu Majiza en Levin Muller hul eerste buiging vir die SWD maak.
Die spanlede is Smuts (kaptein), Travis Ackermann, Herschel Ame-rica, Kirwin Christoffels, Jean du Plessis, Neil Hornbuckle, Khomari, Hanno Kotze, Majiza, Renaldo Meyer, Muller, Tsepo Ndwanda, Heath Richards, Rhode en Jhedli van Briesies. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Oudtshoorniet maak eerste buiging vir SWD
Regan Rhode. (Foto verskaf)