DIE Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se Relay for Life, wat altyd nog jaarliks ’n prettige deurnag-spanbou- en fondsinsamelingsgeleentheid op die De Jager Sportkompleks se tartanbaan is, gaan eerskomende Saterdag (27 Februarie) voort onder streng Covid-maatreëls en in ’n heel ander formaat.
Die Relay for Life gaan volgens organiseerders nie vanjaar ’n deurnagfunksie wees nie, maar spanne en inwoners sal steeds betrokke kan raak. ’n Stoet motors sal vanaf 18:20 die aand deur die dorp ry, versier en verfraai deur die spanne, en plakkate sal by NG Kerk Oudtshoorn-Suid in Langenhovenweg afgegee word.
Spanne kan steeds vanjaar inskryf, teen R600 per span.
Die koste sluit 10 Luminaria-sakkies in. Vir deelname sal spanne ’n soort kanker moet navors en ’n plakkaat daaroor moet maak.
Omdat Kansa vanjaar 90 jaar oud word, moet spanne dan by die huis of plek (enige venue) van hul keuse dié 90 jaar uitbeeld – stap byvoorbeeld 90 keer om die huis, of swem 90 lengtes in die swembad, of spring tou vir 90 minute.
Luminaria-sessies wat kankeroorwinnaars, kankerlyers wat die stryd teen kanker aandurf en ook dié wat die stryd verloor het, vereer, sal ook by huise gehou word en gekenmerk word deur die aansteek van kerse.
Spanne sal versoek word om ’n video van hul deelname te maak, wat dan vir Kansa gestuur moet word.
Vroeër Saterdag sal daar ook verskeie bedrywighede plaasvind: om 16:00 sal eer betoon word aan kankeroorwinnaars, en om 17:10 sal versorgers van kankerleiers erkenning ontvang.
Om 20:00 sal daar ’n oomblik van stilte gehou word, spesifiek vir diegene wat die kankerstryd verloor het.
Fondse wat ingesamel word, sal aangewend word vir opvoeding oor kanker, en ook vir die sorg en ondersteuningsdienste wat vir kankerleiers benodig word.
Shavathon vind ook plaas
Die Relay for Life gaan vanjaar ook hand-aan-hand met die jaarlikse Kansa Shavathon wat Saterdag en Sondag sal plaasvind.
In Oudtshoorn sal inwoners Saterdag hul hare kan laat kleur of afskeer om hul ondersteuning vir kankerleiers en -oorwinnaars te wys.
Dit sal vanaf 09:00 tot 15:00 op die Pick n Pay-parkeerterrein by die Queen’s Mall in Voortrekkerweg plaasvind.
Volgens Adri sal die Wes-Kaapse Bloeddiens ook daar wees.
Odendaal het inwoners van Oudtshoorn uitgedaag om te kom meedoen aan ’n bietjie pret. Sy sê inwoners sal kan “bie” om te bepaal of sy haar hare moet kleur of afskeer. “Hoe groter die bedrag, hoe groter die kans dat ek my hare sal afsny,” sê sy.
Dié geleentheid sal Sondag by Smitswinkel in Langenhovenweg plaasvind, waar motorfietsryers van regoor die Suid-Kaap ook ’n verbyrit sal doen ter ondersteuning van Kansa.
• Skakel Adri Odendaal, gemeenskapsmobiliseerder van Kansa in die Suid-Kaap, by sel 072 133 0444 vir verdere inligting. (Deur Stefan Skapie Goosen)
