Wilck Spar spog met nuwe voorkoms

Wilck Spar Supermark in Kerkstraat, Oudtshoorn, sover vasgestel kon word die oudste besigheid in Kerkstraat, spog nou met die nuutste en modernste voorkoms ná ’n omvattende opknapping wat so pas voltooi is. Ná die opknapping is die supermark ruimer met nuwe en twee meer kasregisters wat wyer van mekaar gespasieer is. Kliënte kan beslis verseker wees van ’n lekkerder inkopie-ervaring, verseker Rael en Dalia Wilck (voor op foto) wat Wilck Spar saam met Rael se broer Paul bestuur. Die winkel het in 1919 sy deure geopen as ’n algemende handelaar. Dit het in 1965 by Spar, ’n vrywillige handelsgroep, aangesluit en doen nou al 56 jaar onder die Spar-handelsnaam besigheid. Die winkel is al drie geslagte in die Wilck-familie se besit. Dit is begin deur Dan Wilck wat opgevolg is deur Geoff Wilck en tans Rael Wilck.