Die Oudtshoorn Rugbyklub se eerste span ná hul wedstryd Saterdag teen Glen Roses. Oudtshoorn is tans los voor op die SWD Karooliga se punteleer, en dit lyk onvermydelik dat hulle volgende seisoen sal opskuif na die SWD Presidentsliga Karoostreek. Foto: Ben du Preez
Deur Ben du Preez
DIE A-span van die Oudtshoorn Rugbyklub het Saterdag (1 Julie) sy onoorwonne rekord van die seisoen in die SWD Presidentsliga (Karoo-streek) behou met ’n wegholoorwinning van 76-6 oor Glen Roses op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec). Die rustydtelling was 49-7.
Oudtshoorn, wat aantreklike hardlooprugby gespeel het, het uit die staanspoor die bal versprei en hul eerste drie binne 2 minute gedruk.
Oudtshoorn se voorspelers het ook oorheers en telkens verhinder dat Glen Roses goeie balbesit op hul eie ingooi wen.
Oudtshoorn het eindelik altesame twaalf drieë gedruk teenoor Glen Roses se enkele drie.
Oudtshoorn se punte is aangeteken deur Fenando Argnoss (skrumskakel) en Shaun van der Schyff (plaasvervangerstut), wat elk twee drieë gedruk het, en Brad Hendricks (vleuel), Keith Marx (senter), Anru Tolken (losskakel), Johannes Marx (agtsteman), Nathan Stoffels (flank), Marius Saptouw (flank), RuanTolken (slot) en Marshallino Booysen (stut), wat elk een drie gedruk het.
Anru Tolken het agt van die drieë verdoel, en Hendricks een.