
Bradwin Wanies, Bridgton se heelagter, duik oor vir sy drie. Foto: Ebenezer Titus

Bradwin Wanies, Bridgton se heelagter, duik oor vir sy drie.
Foto: Ebenezer Titus
Deur Wyndham Ewerts
DIE eerste span van die Bridgton Rugbyklub het Evergreens Saterdag met 27-20 in ’n SWD Premierliga-wedstryd op die Bridgton Sportgronde verslaan om sy tweede plek op die SWD Premierligapunteleer te behou.
Evergreens, wat die verdedigende SWD Premierligakampioen is, is derde op die punteleer. As hulle die wedstryd gewen het, sou hulle die tweede plek ingeneem het.
Evergreens, wat nou twaalf teenoor Bridgton se elf wedstryde gespeel het, is vyf punte agter Bridgton op die punteleer. Op sy punte is Bridgton vyf punte agter Progress, voorloper op die punteleer. Progress het ook nog net twaalf wedstryde gespeel.
In Saterdag se wedstryd het Anver Venter, Bridgton se losskakel, sy span gou op die voorvoet geplaas met ’n reusagtige strafdoel van verder as 50 meter.
Drie minute later is daar weer ’n strafskop aan Bridgton toegeken, dié keer 45 meter van die pale.
En weer het Venter met sy kanonpoot die bal deur die pale gejaag.
Venter se lang skoppe moes onsekerheid in die gemoedere van Evergreens se spelers geplaas het, deurdat foute hulle kon punte kos.
Intussen het Bridgton met meer vertroue begin speel en het drieë deur Bridgton se flank, Boutros May, en vleuel, Bradwin Wanies, gevolg. Venter het albei drieë verdoel om Bridgton met 20-0 te laat voorloop.
Evergreens het kort voor halftyd hul eerste punte met ’n strafdoel deur Vichenzo Adams, skrumskakel, op die telbord geplaas nadat Bridgton vir ontkantspel gestraf is.
Net daarna het Evergreens se voorspelers sterk aangeval wat gelei het tot ’n drie deur Arden-Lee Wessou, flank. Met die doelskop wat mis was, was die rustydtelling 20-8.
Net ná halftyd het Bridgton se regtervleuel, Herchelle America, ná ’n pragtige breekslag gaan druk. Venter het weer verdoel. Telling: 27-8.
Evergreen het egter nie boedel oorgegee nie, en aanhou aanval wat gelei het tot ’n tweede drie vir Wessou. Evergreens se plaasvervanger-losskakel, Irvin Harris, het verdoel.
Die laaste drie van die wedstryd is deur Kyle Hanson, Evergreen se belowende jong binnesenter, tien minute voor die einde van die wedstryd gedruk. Die doelskop was mis en die eindtelling 27-20.
Bridgton se volgende wedstryd is Saterdag (8 Julie) teen Grootbrak op dié se tuisveld.