Fietsryers van Oudtshoorn het uitstekende prestasies behaal tydens die Prince George 100 Miler, waar verskeie Cycle Addict-ryers hul uithouvermoë, talent en vasberadenheid op die fiets ten toon gestel het.
Die wedren het aan fietsryers die geleentheid gebied om hul vaardighede op die uitdagende roete te toets. Volgens Cycle Addict was dit ’n besonderse dag vir die klub se ryers en vriende, met verskeie indrukwekkende uitslae in die verskillende afdelings.
’n Spesiale geleentheid is deur Dryland Event Management aan vyf jong ryers gebied om deel te neem. Jaden Camfer, Sinovuyo Juries, Enzoë Ayford en Josh Samson van die Oudtshoorn Fietsryklub, asook gasryer Jozé Baartman van Bridgton Cycling Club, het die geleentheid met albei hande aangegryp.
Camfer het ’n besonderse prestasie in die 50 Miler gelewer deur sesde algeheel te eindig en eerste onder die bergfietsryers te wees in ’n tyd van 2 uur 56 minute.
Juries het agtste algeheel geëindig met ’n tyd van 3 uur 7 minute. Albei het onder die top tien geëindig.
In die 100 Miler se e-fietsafdeling het Serfie die eerste plek behaal in ’n tyd van 5 uur 43 minute, terwyl Thinus Eloff tweede geëindig het in 7 uur 29 minute.
Mario Kapp het sy eerste 50 Miler suksesvol voltooi in 4 uur 26 minute. Johan Griffioen en Marcel Griffioen het die 100 Miler saam met ander deelnemers voltooi en ’n tyd van 8 uur 48 minute aangeteken.
Die vroueafdeling het ook uitstekende plaaslike prestasies opgelewer.
Yolande de Villiers het die 100 Miler se vroueafdeling in 6 uur 43 minute gewen en algeheel elfde geëindig. Jackie Davidoff het derde onder die vroue geëindig in 7 uur 58 minute.
Yolande se dogter, Chantelle de Villiers, het op haar beurt die vroueafdeling van die 50 Miler gewen.
Cycle Addict het al die deelnemers gelukgewens met hul prestasies en bedank vir hul deelname.
Die klub het ook sy waardering uitgespreek teenoor Dryland Event Management vir die geleentheid wat aan die jong ryers gebied is.
Die uitslae bevestig dat Oudtshoorn oor uitstekende fietsrytalent beskik en dat plaaslike ryers hul merk op groter wedrenne kan maak. (GRANWILLE GOLIATH)
Oudtshoorn se fietsryers blink uit by Prince George 100 Miler
Foto verskaf.
Be the first to comment on "Oudtshoorn se fietsryers blink uit by Prince George 100 Miler"