Oudtshoorn ruiters laat die stof staan

Bo is Nico-Meyer le Roux (voorgrond) en Michael Vaaltyn. Onder is Natasja Lareman. Foto’s: PicSieb

DRIE ruiters van die Oudtshoorn-omgewing het behoorlik uitgeblink tussen die byna 300 inskrywings tydens vanjaar se Fauresmith Perdeuithourit in die Vrystaat, wat van 5 tot 7 Julie gehou is. Dit is bekend as die grootste uithourit in Suid-Afrika.

Michael Vaaltyn op die perd BK Habanero het nie net die eerste plek in die liggewig-afdeling verower nie, maar met sy tyd van 8 ure 23 min oor die uithourit se 200 km die algehele eerste plek ingepalm.

Nico-Meyer le Roux, wat vanjaar aan sy sewende Fauresmith deelgeneem het, en sy perd Laska was derde in die standaardgewig-afdeling.

Le Roux en sy suster Lara het oor die jare heen al ’n paar keer gewen. Uit sewe jaar se deelname het die Le Roux-span, insluitend Vaaltyn, al in vyf ritte eerste plekke behaal. Le Roux spog nou nog met ’n onoorwonne rekord wat hy reeds in 2015 opgestel het op sy perd Stenco Benito.

Natasja Lareman, wat vanjaar saam met haar perd Daybreak Ihab hul eerste Fauresmith aangepak het, het 18de in die liggewig-afdeling geïndig – dit uit 78 ander liggewigte. (Deur Stefan Skapie Goosen)