Ooreenkoms tussen SWD Krieket en EDSA gesluit

Die rolspelers wat by die aankondiging van die sawerkingsooreenkoms is agter, van links, Arishna Maghoo (fisio- terapeut, SWD professionele span), Chistelle Johannes (uitvoerende komiteelid, Eden Distrik Sportraad), Tyrese Carelse (SWD-speler), André Alexander (bestuurder, Eden Distrik Sport-akademie), Martelize van der Merwe (SWD- vrouespanafrigter), Jané Winster (SWD-vrouespeler) en Fikile Blauw (Eden Distrik Sport-akademie afrigter). Voor van links is Shannon Musto (krag- en kondisioneringsafrigter, SWD), Stephnie McKay (administrateur, Eden Distrik Sport-akademie), Rudy Claassen (president, SWD Krieket), Piet Botha (hoof-afrigter, SWD professionele span), Albertus Kennedy (hoof-uitvoerende beampte, SWD Krieket) en Jean Neethling (waarnemende distriksbestuurder, Wes-Kaapse departement sport en kultuur). Foto: Stefan Skapie Goosen

’N SAMEWERKINGSOOREEN-KOMS wat Donderdag (7 Julie) tussen Six Gun Grill SWD Krieket en die Eden Distrik Sport-akademie (EDSA) gesluit is, gaan verreikende gevolge vir SWD krieketspelers van alle spanne en ander topatlete in die distrik inhou.

Die EDSA se gimnasium en kantore is by die De Jager Sportkompleks in Voortrekkerweg geleë, waar die ooreenkoms ook bekendgestel is.

Volgens Albertus Kennedy, hoof-uitvoerende beampte van SWD Krieket, is die ooreenkoms voordelig vir al SWD se krieketspelers, siende dat die krieketliggaam se tuiste slegs ’n klipgooi van die akademie is.

“Die vennootskap, wat in ’n formele ooreenkoms tussen die twee partye gesluit is, gee al die SWD-verteenwoordigende spanne toegang tot ’n gimnasium wat daarop gefokus is om voorsiening te maak vir die opleidingsvereistes van hoë-prestasie atlete.

Die ooreenkoms maak dan ook voorsiening vir kantoorspasie vir SWD Krieket se opleidingsperso-neel,” het hy gesê.

Stephnie McKay, EDSA-administrateur, het met die bekendstelling gesê daar is baie opgewondenheid rondom die vennootskap. “Ons is baie geëerd om ’n goed-bestuurde en ambisieuse sportkode soos SWD Krieket by die EDSA te verwelkom,” het McKay gesê.

Rudy Claassen, president van SWD Krieket, het gesê dat die slui-ting van hierdie vennootskap ’n ambisie is wat SWD reeds ’n geruime tyd koester.

“’n Gehalte oefenfasiliteit van hierdie aard is ’n belangrike deel van ons ambisie om verdere hoogtes in al ons krieketstrukture te bereik, en hierdie ooreenkoms sal uiters voor-delig wees vir die SWD professionele, vroue-, akademie- en jeugspanne,” het hy gesê.

• Die EDSA is amptelik in 2015 geopen met die doel om ’n fasiliteit te verskaf wat topatlete in die distrik bystaan, ​​met die ondersteuning van wetenskaplike dienste om hul algehele prestasies te verbeter. (Deur Stefan Skapie Goosen)