Oudtshoorn Rugbyklub stuur die Rangers druipstert huis toe

Bo: Die oorstelpte spelers van die Oudtshoorn Rugbyklub se A-span saam met familielede na hul wedstryd teen die Dysselsdorp Rangers op Saterdag, 6 Julie op die REC in Oudtshoorn. Onder: Die B-span wat ook hul oorwinning vier. Foto’s: Verskaf

Oudtshoorn Rugbyklub het verlede Saterdag die Dysselsdorp Rangers gewys wie baas is toe albei die spanne van Oudtshoorn hulle wedstryde gewen het met ’n tuiswedstryd op die REC.

Die A-span het met 22-16 gewen. Die puntemakers was Ruhan Els, Jaco Marx en Ruan Tolken wat elk ’n drie gedruk het, en Jean Heunis wat ’n strafskop en twee doelskoppe suksesvol deur die pale gestuur het.

Die B-span het hul wedstryd gewen met ’n puntetelling van 36-3. Hendrik Kotze het gesorg vir twee drieë en twee doelskoppe. Luwellin Izaks het ’n drie en ’n doelskop agter sy naam gesit, en Franklin Wicomb, Pelser Maloney en Christopher Jaers het elkeen vir ’n drie gesorg.

Die Oudtshoorn RFC se volgende wedstryd is op 13 Julie waar hulle die span van Willowmore in ’n wegwedstryd gaan aanpak.

Nadat Willowmore met hul vorige wedstryd teen hulle op 15 Junie na ’n paar minute van die begin van die wedstryd, besluit het om van die veld af te stap nadat hul kaptein ’n geelkaart ontvang het, word ’n baie interessante wedstryd verwag.

Ander wedstryde wat ook op Saterdag, 13 Julie gespeel gaan word is Zoar teen Die DKD Eagles, Dysselsdorp Rangers teen Adias, die Swings teen Calitzdorp Klippies en Spring Roses teen Ladismith. (Deur Lindi Brill)