SA-Fietsrykampioenskappe weereens ’n groot sukses

Bo: Deelnemers gereed om weg te spring by die padresies en tydtoetse by Highgate op Saterdag, 6 Julie. Onder: Fietsryers wat tydens die SA-Kampioenskappe op Vrydag, 5 Julie, tydens die Kriteriumtoets in Bridgton hul speke laat sing het. Heel onder: Wes-Kaapse minister van Sport en Kultuur, Ricardo Mackenzie op sy fiets saam met Corné Bence, die voorsitter van Wes-Kaap Fietsry. Mackenzie het saam met die jong klomp op sy fiets gespring en ’n paar rondes van die Kriteriumtoets gery. Foto’s: Verskaf

Oudtshoorn was weereens die trotse aanbieder van die 14de Interdistrik Fietsrykampioenskappe wat vanaf 4 – 6 Julie plaasgevind het.

Die kampioenskappe is deur die Eden Fietsry Assosiasie aangebied, en het ook deel gevorm van die Oudtshoorn Munisipaliteit se Sportfees met die ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Sport en Kultuur.

Dit is die enigste kampioenskappe van die aard in Suid-Afrika, en fietsryers van al 9 die provinsies het hieraan deelgeneem.

Die Wes-Kaapse Minister van Sport en Kultuur, Ricardo Mackenzie, het ook ’n draai by die wedrenne gemaak en self op sy fiets gespring tydens die Kriteriumtoetse op Vrydag, 5 Julie, waar hy agt rondes saam met die jong atlete voltooi het.

Die eerste skof het op Donderdag, 4 Julie by die Ovaalbaan plaasgevind. Die fietsryers het op Vrydag om 09:00 weggespring vir die Kriteriumtoets by die VGK-kerksaal in Bonteboklaan, Bridgton. Saterdag het die span-tydtoetse en padresies by Highgate plaasgevind.

“Hierdie was die 14de jaar wat die kampioenskappe plaasvind het en dit is die enigste een van sy soort in Suid-Afrika.”

“Ons is baie dankbaar teenoor Fietsry Suid-Afrika wat vir ons die geleentheid gegee het om hierdie gebeurtenis in ons dorp te kon aanbied”, het Corné Bence, voorsitter van Wes-Kaap Fietsry en die President van die Eden Fietsry Assosiasie gesê.

Bence het ook sy dankbaarheid teenoor die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse Departement van Sport en Kultuur uitgespreek vir hul ondersteuning en bystand.

Ten spyte van die yskoue weersomstandighede, en die klein deelnemers wat gestaan en bibber het, het al die deelnemers hul beste gegee! (Deur Lindi Brill)