Oudtshoorn-gholf verloor ’n legende

’N LEGENDE in Oudtshoorn se gholfkringe en ’n man wie se naam sinoniem met die Oudtshoorn Gholf-klub geword het weens sy jarelange toewyding, is Vrydagaand (24 Julie 2020) oorlede.

Hendrik Hogart, alombekend as Lange, is volgens klubkaptein Paul Stroebel oorlede aan hartversaking.

“Almal het hom geken. Hy het as skool-laaitie by ons begin caddy, en het vir jare daarna by ons aangebly.

“Lange was altyd koel en kalm, en sekerlik die mees lojale mens wat ek nog ooit ontmoet het – teenoor sy werk, en die gholfklub,” het Stroebel met hartseer vertel.

Hy skerts dat Lange so lojaal en hardwerkend was, dat hy nooit ’n dag afwesig was nie. “Lange het in ’n stadium spatare gekry, en ons moes hom dwing om dokter toe te gaan. Die dokter wou hom medies ongeskik verklaar om te werk, toe gaan hy bloot net nie meer dokter toe daarna nie,” sê Paul.

Lange, wat sedert 1982 as kroegman by die klub gewerk het, is nie net op Oudtshoorn nie maar regoor die Suid-Kaap bekend aan gholfspelers. Hy het tot aan die einde van Augustus 2016, met sy aftrede ná 35 jaar se diens, die titel kroegman met onderskeiding beklee. Selfs die Oudtshoorn Besigheidskamer het in Oktober daardie jaar afskeid geneem van Lange tydens ’n geleentheid in die gholfklub se klubhuis.

Gewese sportjoernalis van Die Hoorn, Higgo Jacobs, het geskryf dat eienskappe soos eerlikheid, lojaliteit, integriteit en absolute betroubaarheid aan Lange toegedig is.

Toe die nuus oor Lange se afsterwe op ’n plaaslike Facebook-blad ge-plaas is, is hy deur talle mense as ’n “legende” en “staatmaker” bestempel – ’n man wat duidelik ’n indruk op baie se lewens gemaak het. (Deur Stefan Skapie Goosen)