DIE Oudtshoorn Gholfklub sê hul gholfbaan gaan geskaad word deur mense wat daar kom bome afsaag vir vuurmaakhout.
In gesprekke met vier mans wat Saterdag (25 Julie 2020) besig was om bome af te saag blyk dit egter dié onwettige afsaag van bome is ’n teken van ’n groter probleem.
Die Hoorn het gaan ondersoek instel nadat ’n boodskap van ’n leser ontvang is dat bome op die grens van die gholfklub langs die pad na De Rust afgesaag word. Hulle het toegang tot die gholfbaan deur ’n opening in die heining gekry.
Een van die mans, Marvin Murphy, het vertel dat dit hul enigste opsie is, en dat al weet hulle dit is verkeerd, hulle nie anders kan nie. “Ons kom almal van GG Kamp af, en daar is nie werk nie, veral nou met die Covid. Ons maak niemand seer hier nie. Ons soek net bietjie vuurmaakhout vir onsself, en dan verkoop ons van dit vir bietjie geld om kos in die huis te kry,” het hy gesê.
Murphy sê hy en sy vriende doen eintlik ook verniet werk vir die gemeenskap deur die bome daar af te saag. “Daar is skelms wat die gholfbaan en die bome gebruik om weg te kruip. As ons dus die bome bietjie afsaag, maak ons dit moeiliker vir hulle om van die Polisie te vlug.”
Die Oudtshoorn Gholfklub se klubkap- tein, Paul Stroebel, sê die onwettige betreding van die gholfbaan en die afsaag van hul bome is ’n groot probleem, veral in die winter wanneer mense kom vuurmaakhout maak.
“Dit verniel die gholfbaan,” het hy gesê. “Die Polisie is al telkemale in die verlede uitgeroep om die probleem aan te spreek.
Die gaping in die heining waar dié mense toegang verkry, kon volgens finansiële redes nog nie reggemaak word nie, het Stroebel bygevoeg.
“Dit veroorsaak nog groter probleme vir ons jonger spelers se veiligheid.
Daar het al ’n aantal kere in die verlede mense hier met hul veghonde kom stap en van die jonger spelers aangerand en beroof,” het hy gesê.
Volgens Stroebel het die klub die probleem al self probeer aanspreek deur gereeld ’n oog oor die gaping in die heining te hou en uit te kyk vir sulke elemente.
Volgens Paul was daar lanklaas so ’n geval. (Deur Stefan Skapie Goosen)