Korrektiewe Dienste bewys laaste eer

ROERENDE tonele het verlede Donder­dag (23 Julie 2020) afgespeel tydens ’n spesiale roudiens wat Korrektiewe Dienste Suid-Kaap vir hul afgestorwe kollega, Heldegardt Prins, by Ladismith Korrektiewe Dienste gehou het, asook tydens haar begrafnis op Saterdag (25 Julie 2020). Prins het op 18 Julie haar stryd teen kanker verloor.

Familielede is in ooreenstemming met Covid-19-regulasies na die roudiens van die Departement Korrektiewe Dienste genooi. Prins is op tradisionele wyse deur Korrektiewe Dienste vereer en tydens die seremonie het die trane vrylik gevloei.

Met die aanvang van die diens is ’n tradisionele teenwoordigheidslys van personeel hardop gelees. Toe Prins se naam drie keer gelees is, het die lede geantwoord: “Afwesig, oorlede”.

Hierna is haar personeelleêr simbolies gesluit en aan die gebiedskommissaris oorhandig.

’n Konvooi voertuie met familielede onder begeleiding van die hoof: verkeersdienste, Stef Pietersen, die poli­sie, en die ambulans- en brand­weerdienste met loeiende sirenes het deur die hoofstraat van die dorp na Roete 62 tot by haar ouerhuis in die sendingdorpie Zoar, sowat 20 km van Ladismith, gery.

Hier het ’n kollega, Jan Tities, ’n bemoedigende boodskap aan die familie gebring. Kollegas het ook hul herinneringe aan haar in ’n netjies gebinde boekie met foto’s neergepen.

Veral Hedegardt se organisatoriese vermoë en toegewydheid het uitge­staan. I never knew what bravery was, until I saw it in you my friend! het kollega Yolanda November geskryf met verwysing na die wyse waarop Prins teen kanker gestry het. ’n Geraamde foto van Prins is daarna aan haar bedroefde moeder, Dorothy Prins, oorhandig. (Deur Deon Meyer)