Wees versigtig, vra Rayno

“WEES verantwoordelik, hou af­stand, dra jou masker en hou jouself veilig van die Covid-19-virus. Ek wens dit wat my oorgekom het, niemand toe nie.”

Aan die woord is die Oudts­hoorniet Rayno Campher (40) wat tans – 10 weke nadat hy siek ge­word het – steeds sukkel om te herstel van ’n erns­tige virale siekte, vermoedelik Covid-19, wat hy opgedoen het.

“Ek het drie keer gedink ek gaan sterf,” vertel Rayno. “Niemand verstaan daardie vrees dat jy dit nie gaan maak nie. Ek wil nie hê mense moet ervaar wat ek ervaar het nie. Wees net versigtig.”

Rayno, wat die afgelope twee jaar op Cullinan ge­woon het, sê hy was tydens sy siekte daar by verskeie dok­ters, maar is die hele tyd net vir simptome behandel en het uiteindelik hart-, lewer- en nierprobleme ontwikkel. Toe hy na sewe weke vir Covid-19 getoets is, was die toets negatief.

Nadat hy verlede week teruggekeer het Oudts­hoorn toe sodat sy suster, Ramona van Rensburg, hom kan bystaan met sy herstel, het ’n dokter hier verduidelik dat toetse aandui dat hy aan virale mio­karditis ly wat wel deur ’n ernstige virus veroorsaak is. Dit kon moontlik Covid-19 gewees het, maar enige ander ernstige virus, soos die wat varkgriep veroorsaak, kon dit ook tot gevolg gehad het.

Rayno sê hy het tot 10 weke gelede niks makeer nie, maar toe slaan ’n ligte verkoue toe. Hy het sie­ker geword, en is met gastritis gediagnoseer nadat sy ingewande pynlik en geswolle geraak het. “Ek het nagsweet en hallusinasies gekry, was moeg en het gesukkel met asemhaling, maar die diagnose was dat die gastritis druk op my longe veroorsaak.”

Hy is kort daarna met longontste­king gediagnoseer, waarvoor ’n ander dokter antibiotika voorgeskryf het. Maar selfs nadat die longontste­king opgeklaar het, het hy steeds ellendig gevoel. Hy het pyn op die krop van sy maag gehad en kon nie eet nie. Hy kon slegs gesond­heids­drankies inkry. “Alles het vir my na metaal geproe.”

Sy bene het so erg begin opswel dat hy waterpille daarvoor begin drink het en in die noodeenheid van ’n hospitaal in Pretoria beland het.

“Hulle was die eerstes wat vir my kom sê het ek het hartversaking. Van die susters het vir my kom sê: ‘Ons is so jammer, jy is so jonk’; asof dit verby was met my.”

Rayno sê hy is steeds nie vir Covid-19 getoets nie en met ’n verwysing na ’n kardioloog uit die hospitaal ontslaan. “Ek is huis toe en vriende het my begin kalmeer en my met boererate begin dokter.”

Hy het ’n week later ’n afspraak gemaak by ’n Mediclinic in Pretoria, waar hy uiteindelik vir die Covid-toets gestuur is.

Rayno, wat 12 kg verloor het tydens sy siekte, vertel dat dit met hom beter begin gaan sedert hy op Oudts­hoorn is, maar dat hy steeds naar is en sukkel om te eet. Hy sê hy wens hy kon permanent terugkeer na die Klein Karoo “waar ek nog net goeie raad en diagnoses ontvang het”.

“Ek wens net diegene na wie ek vir hulp gegaan het in Gauteng, het beter na my geluister. Ek het besef niemand is in my lyf nie en het nie verstaan hoe ernstig siek ek was nie.” (Deur Liesel le Roux)