Briewe

Covid: Verander gedrag só

In die skrywe van dr Barry McGurk (Die Hoorn, 23 Julie 2020) beskryf hy die dreigende tydbom betreffende Covid-19: die uiterste swak same­-werking rondom die dra van maskers en die handhawing van fisieke afstand in openbare spasies.

Dr McGurk doen nie slegs verslag oor sy ontstellende waarneming nie (bv dat slegs 10 tot 20% van die pu­-bliek in Bridgton samewerking toon ter voorkoming van verspreiding van die virus).

Wat ek uitstekend vind, is dat hy ook met deurdagte voorstelle en moontlike oplossings kom. Onder andere sinspeel hy daarop dat relevante persone bymekaar moet kom en probeer werk aan ’n effektiewe ge­koördineerde plan vir gedragsverandering.

Te dikwels sien ons kritiserende en selfs skellende kommentaar, sonder die aanbod van moontlike oplossings en inisiatiewe.

My indruk is dat die sluiting van skole presies hierdie tendens (tieners wat in groepe saamdrom op straat sonder veilige afstandshandhawing of maskers, soos waargeneem deur dr McGurck) verder versterk.

Onlangs het Die Hoorn gerapporteer oor ’n groep van Ladismith wat protesteer het teen die opening van skole, waarby hulle aangevoer het dat dit onveilig vir leerders sou wees om skool te gaan. Inteendeel, die realiteit is presies dit wat dr McGurck beskryf: buite die dorpsentrum veral (en, sou ek dus byvoeg, buite die skole) is die werklike slagveld van die virus, ook weens die afwesigheid van voor­ko­mende gedrag. Gesondheidsbevor­de­rende gedrag word juis nou in die skoolopset ingeburger.

Die motief vir ’n gekoördineerde plan, soos gevra deur dr McGurk, is volgens my absoluut ’n saak van ­dring­­endheid.

Die mees toepaslike dryfveer hieragter sou die Gesondheids- en die Gemeenskapspolisieforums (GPF) kon wees.

Die doel van die GPF is dan juis om ’n veilige en beskermende omgewing vir burgers te skep en is saamgestel uit juis die toepaslike organisasies waarna dr McGurck verwys het.

Uitgebreide gemeenskapsbetrok-kenheid is nou nodig om Covid-verspreiding te bekamp.

Nie-bestraffende maatreëls veral.

Onophoudelike publieke kommunikasie is nodig, insluitend die pla­-sing van plakkate op lamppale, vensters van besighede en op hei­-nings van openbare ruimtes – ook en veral buite die dorpsentrum.

Soos tydens verkiesingstyd behoort voertuie met luidsprekers die krisis in ons gemeenskappe te kommunikeer, insluitend onophoudelik die belang van voorkomende ge­drag.

Hierdie is geen oorreagering as ’n mens bewus is van die gevaarlike afmetings van nie-samewerking in ons gemeenskappe nie, soos tereg uitgewys deur dr McGurk.
– Clifford van Wyk, Volmoed

Dienslewering tydens Covid-19Beroep op leiers: Doen vreesloos die volgende

Dis is verblydend om te hoor dat mnr Macpherson, burgemeesterskandidaat vir ons dorp, ’n ferm standpunt inneem teen mense wat Facebook gebruik om sy en ander leiers se karakter af te breek deur die verspreiding van onge­toets­te stories en hulle sodoende verdag te maak. Te maklik maak mense op Facebook uitlatings en beskuldigings met die uitsluitlike doel om ander se karakter te beswadder, ongeag die skade wat dit doen. Gaan asb voort met die aksies en lê klagtes teen hulle sodat hulle boet vir hul onverantwoordelike optrede.

Die dorp het nou meer as ooit ’n leier soos u nodig en skep ons moed vir ’n dorp met die toekoms waar­op die gemeenskap hoop. Dit maak ons verder opgewonde om te lees dat u van voor­nemens is om die pragtige Visie 2030 weer op koers te kry as dokument om be­leggers na ons dorp te lok en dat u ook pogings gaan aanwend om die verhouding met die dorp se tweelingdorp in Nederland op koers te kry.

Dit sal ongelukkig moeilik wees indien die taak om die verkeerd van die verlede reg te stel, net op u skouers moet rus. Die onder-burgemees­ter, spea­ker en munisipale bestuurder moet inkoop en skouer aan skouer saam met u dit doen. Om dit reg te kry sal dit vir hulle nodig wees om vreesloos die volgende in plek te kry.

• Die speaker sal moet toesien dat alle raadsvergaderings ordelik verloop aangesien dit die plek is waar besluite geneem word. Debatvoering sal op ’n hoogs professionele vlak sonder ont­wrigting moet geskied. Sy sal moet optree volgens die gesag wat volgens wetgewing aan haar opgedra word, en optree teen raadslede wat die ge-dragskode van raads­lede verontagsaam.

Alle klagtes teen raadslede moet onverwyld ondersoek word. Sy sal moet toesien dat wyksraadslede met hul komitees gereeld elke maand die inwoners in hul wyke ontmoet om na hul probleme te luister en ook om ­te­­rug­­­­­voe­ring te gee.

Op administratiewe gebied is dit die munisipale bestuurder in sy hoeda­nig­heid as hoof van die administrasie wat die volgende as ’n dringende noodsaak­likheid in plek moet kry.

• Ondersoek instel na watter amp­tenare die vertroulike inligting en verslae van die raad na buite neem nog voordat dit deur die raad bespreek is (voorbeeld: die Wentzel-verslag en verskeie fakture).

• Bespreek met die burgemeester ’n ondersoek na die toestaan van die tender van R2,2 miljoen vir die Wentzel-verslag.

• Ondersoek en optrede teen amp­tenare wat hul seniors se gesag onder­myn en klagtes teen hul ondersoek.

• Ondersoek en optrede teen amp­tenare wat in werkstyd met partypolitiek besig is.

• Ondersoek na nepotisme waar raads­lede die afgelope termyn hul kinders en familie in poste laat aanstel het.

• Alle tydelike aanstellings te be­eïndig en die werk wat diegene in dié poste doen, aan die permanente perso­neel toe te vertrou (baie personeellede het baie vrye tyd). Hierdie tydelike aan­stellings kan vir die raad ’n kwessie word aangesien die persone na ’n se­ke­re tyd kan aanspraak maak op permanente status en gevolglik onbegrote uit­- gawes.

• Toesien dat ’n werkoudit van amp­tenare spoedig afgehandel word ten einde die organogram te hersien.

• Ondersoek na die betrokkenheid van amptenare by die verdrinking van die kind by die Kerkstraat-swembad en optrede.

• Die vulling van verkeersposte om die swak beeld van die verkeer en raad reg te stel.

• Optrede teen werkers wat in werks­-tyd met munisipale voertuie sonder toestemming die straat blokkeer en eise stel.

• Afbreek van onwettige strukture.

Indien mnr Macpherson, die speaker en ­munisipale bestuurder hierdie aangeleenthede in plek kry en afhandel, is daar weer hoop en behoort die pad dan gelyk en oop te wees vir goeie admi­nistrasie en dienslewering. Indien nie, behoort die gemeenskap met een stem te roep vir ADMINISTRASIE.
– ’n Trotse Oudts­hoorniet

Dienslewering tydens Covid-19

Graag wil ek sommer namens al die belastingbetalers van Oudtshoorn wat elke maand hul belasting pligsgetrou betaal, die volgende versoek aan die munisipaliteit rig en veral aan mnr Pat Jordaan van die Verkeersdepartement.

Ons leef in buitengewone omstan­dig­hede weens Covid-19. Kan die munisipaliteit dit dus nie ernstig oorweeg om hul kantoorure te verleng op die dae wat hulle wel oop is nie, en ook Saterdae en Sondae hul kantore oop te hou totdat die agterstand ten opsigte van dienslewering ingehaal is nie?

Niemand weet wanneer omstandighede gaan verbeter nie; dus kan die munisipaliteit buitengewone omstandighede skep om sy inwoners te dien.
Amptenare ontvang maandeliks hul volle salarisse, maar die privaatsektor gaan gebuk onder geweldige druk waar­aan hul niks kan doen nie.

Die munisipaliteit en sy amptenare word uitgedaag om hul lojaliteit en dankbaarheid aan die inwoners wat tog hul salarisse betaal, te toon deur bogenoemde versoek na te kom.

Ek sal graag reaksie van die munisipaliteit wil ontvang oor hierdie versoek. – Gefrustreerde belastingbetaler, Oudtshoorn