Onbesonge rugbylegende van Saru sterf op 71

Oud-rugbyspelers vorm ’n erewag voor die kerk as laaste eer aan Hennie Konstabel. Foto: Garnett Wicomb

Oud-rugbyspelers vorm ’n erewag voor die kerk as laaste eer aan Hennie Konstabel. Foto: Garnett Wicomb

EEN van die beste rugbyspelers wat die SWD opgelewer het, Hennie Konstabel, is op 71-jarige ouderdom na ’n lang siekbed vanuit die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk begrawe.

Konstabel, ’n boorling van Calitzdorp, het in 1974 as binnesenter, Suid-Afrikaanse Rugby-unie-kleure verwerf nadat hy reeds op laerskool sy merk op die rugbyveld gemaak het.

In sy huldeblyk aan Konstabel beskryf Pietie Mooney hom as een van die beste verdedigers vanweë sy sterk liggaamsbou en ’n man wie dikwels sy opponent met bal en al betrap het.

Volgens Mooney het Konstabel met die intrapopslag die eerstespan van die Hoërskool Môrester gehaal. Sy rugby het daarna op kollege gedy en het dit nie lank geneem voordat hy die SWD-span gehaal het nie.

“Hennie het oor die vermoë beskik om ’n lyn reguit te maak en sodoende sy buitesenter die kans gebied om gapings te slaan en drieë aan te teken.

“Sy groot pluspunte as rugbyspeler was sy goeie hande, voorgevoel en die feit dat hy op sy voete kon dink.
“Sy sterk leierseienskappe het daartoe gelei dat hy gou kaptein van die SWD geword het.”

Winston Coerecius, wat saam met Konstabel vir Oudtshoorn se All Blacks rugbyklub en die SWD gespeel het, het hom beskryf as iemand met wie jy graag geassosieer wou wees en sy woning was die bymekaarkomplek van baie rugbyspelers.

Konstabel se dogter, Lauren, het haar pa beskryf as ’n man met ’n sagte hart wie uit sy pad gegaan het om andere in nood te help sonder om daaroor te praat.

Haar pa was nie net ’n uitstekende rugbyspeler nie, het sy gesê, maar hy kon ook baie goed kook.

Konstabel het in 1968 aan die Hoërskool Môrester gematrikuleer en in 1970 sy onderwysstudies aan die destydse Onderwyskollege Suid Kaapland (OKSK) voltooi.

Hy het op Riviersonderend begin skoolhou, maar in 1974 teruggekeer na OKSK om sy POD III (LO) te verwerf.

In 1975 aanvaar hy ’n betrekking aan die Protea Primêre Skool en in 1980 ’n pos aan die Hoërskool Gerrit du Plessis in Riversdal.

Hy keer in 1981 terug na sy geboortedorp en die Excelsior Primêre Skool, en word kort daarna as LO-dosent gesekondeer na OKSK tot met sy uittrede uit die onderwys in 1996.

Konstabel word oorleef deur sy vrou, Joan, drie kinders Shaun, Warren en Lauren, asook vyf kleinkinders. (Deur Garnett Wicomb)