2021 Eden Straatmylreeks bekendgestel

By die bekendstelling van die 2021 Eden Straatmylreeks is agter van links Dave van der Walt (KKAF), Donovan Claassen (MBM Raadslid - Sport), Jean Neethling (DCAS), Karen Phipson (ATKV), Dirk Kotzé (MB Burgermeester), en DB Prinsloo (UV).Voor van links is Jerry Matsoa (NWU HPI), Ruben Gouws (NWU HPI), en Hans van der Veen (KKAF). (Foto verskaf)

DAAR het vandeesweek groot opgewondenheid geheers tydens die amptelike bekendstelling van die 2021 Eden Straatmylreeks by die ATKV Tarentaal Konferensiesentrum in Hartenbos.

Nadat die Covid-pandemie die 2020 reeks gekelder het, was dit volgens organiseerders, die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF), ’n groot en dapper besluit om die 2021-reeks weer aan te pak.

“Gelukkig was al die ander borge positief – die Universiteite van Vrystaat en Noord-Wes, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, EdenFM, die ATKV Hartenbos, om maar ’n paar te noem. Prysgeld van rondom R60 000 is op die spel, en ons hoop dat die topatlete in die land weer eens hulle staal sal kom toon,” sê Dave van der Walt van die KKAF.

By die geleentheid het die nuwe burgermeester van Mosselbaai, raadslid Dirk Kotzé, die moontlikheid genoem dat die Mosselbaai Munisipaliteit dalk meer betrokke kan raak.

Shireen Noble, Atletiek SA se visepresident, het die verrigtinge afgesluit deur die reeks amptelik geopen te verklaar.

Die Eden Straatmylreeks neem ’n aanvang met die Klein Karoo Straatmyle in Oudtshoorn op 16 Desember, gevolg deur die Swartberg Baanmyle en Naellopebyeenkoms op die De Jager Atletiekbaan op Oudtshoorn op 18 Desember. Die finale been word gehardloop op 20 Desember by die ATKV Strandoord in Hartenbos.

Ingebou in die reeks is ook die Gran Prix-kategorie waar die mans- en damesatleet wat die meeste punte in die reeks kon versamel, aangewys gaan word as die Gran Prix-wenners.

Volgens Van der Walt word daar vanjaar weer ’n hele paar droommyle, dit wil sê van sub-4 minute, verwag. Daar word ook volgens hom vir alle ouderdomsgroepe voorsieining gemaak: jong talent, identifisering van atlete gebore in of na 2007; meisies en seuns o.18, gebore in 2004, 2005 of 2006; 40-plus dames en mans; dames en mans; en meisies en seuns o.20, gebore in 2002 en 2003. Van der Walt voeg by dat die Swartberg-byeenkoms van 18 Desember vir naellope en 400 m voorsiening sal maak, vanaf die o.12-ouderdomsgroep en op.

“Daar word ook ’n ontwikkelingskliniek beplan vir jong atlete op 17 Desember op die De Jager Atletiekbaan – aangebied deur die MATIE Atletiekklub onder leiding van Hadley Volkwyn, asook ’n groepbesprekingssessie dieselfde aand by die Eden Sportakademie oor uitdagings wat die hedendaagse atlete ervaar,” sê hy.

Inskrywings geskied aanlyn – besoek gerus die webtuiste www.edenmiles.co.za waar alle inligting beskikbaar is en die aanlyn-inskrywings gedoen kan word.

Vir navrae kan Hans van der Veen gekontak word by hvdv1966@gmail.com of 083 462 0477, of Van der Walt self by davesusvdw@gmail.com of 082 773 4901.