Old Crocks klop Neppon Warriors oortuigend in Vlakkiekrieketeindstryd

Die span van die Old Crocks, en van hul ondersteuners, met die wennerstrofee. Foto: Garnett Wicomb

DIE Old Crocks, ’n span wat vanjaar vir die eerste keer aan die Outshoorn Premierliga (OPL) T-20 Vlakkiekrie-kettoernooi deelgeneem het, is vanjaar se kampioen nadat die span die Neppon Warriors Sondag in die eindstryd op Mandela Park voor ’n reuse- skare oortuigend met 7 paaltjies geklop het.

Die Neppon Warriors van Willem Goliath het eerste gekolf en was ná tien boulbeurte kniediep in die moeilikheid met sy telling op 23/3.

Goliath (29), Achlu Rabie (20) en Derick Olifant (13) het egter begin weerstand bied en die span gehelp tot ’n verdedigbare telling van 82/7.

Marcello Piedt (2/5) en James Brui­ners (2/18) was die Old Crocks se beste boulers.

Die Old Crocks met die voormalige SWD speler Pieter Stuurman as kaptein, het die wenteiken in die 16de boulbeurt bereik met Stuurman (13) en nog ’n oud SWD-speler, Merlin Masimela (14) voor die penne.

Die aanvangskolwers, Warren Se-velus (26) en Marcello Piedt (19) het die grondslag vir die oorwinning gelê.
In die uitspeelwedstryd om die derde plek het die verdedigende kampioen, Firestones, vir Hungry Lions met 2 paaltjies verslaan.

• Talle mense het ná die dag se krieket kritiek uitgespreek oor die afwesigheid van die Polisie en die munisipale wetstoepassers wat ondanks die Covid-19-beperking op toeskouers by sportgeleenthede afwesig was. (Deur Garnett Wicomb)