MET die Covid-pandemie wat Suid-Afrikaners se lewens al meer as 16 maande regeer, is daar bykans niemand wat nog nie geraak is deur die dood van ’n familielid, vriend of kollega nie.
Daarom wil Ingrid Noble, bekend vir haar organisering van Oudtshoorn se Jerusalema-dansuitdaging verlede jaar, nou vir 12 Augustus ’n Kers vir Covid-geleentheid reël om almal wat hul lewens weens die virus verloor het, te herdenk.
“Dit is tyd om saam te staan en ’n kers aan te steek vir Covid. Ons almal treur oor die verlies van ’n familielid, vriende of kollegas,” sê Ingrid.
Volgens Ingrid het dié idee sy oorsprong in Villiersdorp gehad waar inwoners vroeër tydens die pandemie buite hul huise op die sypaadjie met kerse gestaan het om hul ondersteuning te toon vir mense wat gesterf het, en dié wat agtergelaat is.
“Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, het dit raakgesien en my daarvan laat weet. Dit is ook ’n geleentheid vir Oudtshoorn se inwoners om as gemeenskap saam te staan en mekaar emosioneel te ondersteun,” sê sy.
Die idee behels dat Oudtshoorniete op Donderdag 12 Augustus om 18:00 buite hul huise of ’n werkplek staan met ’n kers. “Stap die aand uit met ’n kers, geloof in jou hart en die krag om te weet dat ons hierdeur sal kom, asook liefde vir die wat agtergebly het. Kom ons staan stil en eer diegene wat ons verlaat het, nie net op Oudtshoorn nie, maar in Suid-Afrika en die res van die wêreld.”
Ingrid sê inwoners wat deelneem hoef nie lank buite te staan nie. Vyftien minute is voldoende. Sy vra ook dat hulle foto’s of selfs ’n hoëresolusie- video vir haar stuur wat saam op sosiale media versprei sal word. Puff Daddy se lied, I’ll be missing you, gaan as temalied gebruik word vir die aand.
Ingrid sê die Besigheidskamer, Rotariërs, Round Table, Infanterieskool, Mediclinic Klein Karoo en Oudtshoorn Hospitaal het reeds hul deelname bevestig. Honderde Oudtshoorniete het ook gereageer op ’n Facebook-plasing oor die inisiatief. Sy sê selfs burgemeester Chris Macpherson het gesê dat hy en sy personeel sal deelneem.
“Die inisiatief het niks met my te doen nie. Dit is vir die dorp en sy mense, en ’n veilige manier om saam te staan. Ons moet mekaar ondersteun, want daar is ook gevolge van lewensverlies soos depressie en finansiële probleme. Die impak van die pandemie is massief.”
Tydens die geleentheid moet Covid-regulasies nagekom word, soos die dra van maskers en handhawing van sosiale afstand. WhatsApp Ingrid op 071 339 6993 om betrokke te raak of vir navrae. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Kers vir Covid -byeenkoms wil pandemie-slagoffers gedenk
