Nog ’n sege vir Spring Roses!

Spring Roses se vleuel, Suttner Abrahams, in aksie.  Foto: Ebenezer Titus

Spring Roses se vleuel, Suttner Abrahams, in aksie. Foto: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
DIE A-span van Spring Roses het Saterdag in ’n SWD Presidentsligawedstryd  vir Willowmore op die Bridgton Sportgronde met 27-11 ge­klop.

Spring Roses het die wedstryd met ’n bonuspunt gewen deurdat hulle vier drieë gedruk het.

Met dié sege skuif Roses nou op na die derde plek op die punteleer van die SWD Presidentsliga. Van die Karoospanne lê hulle die hoogste op die punteleer.

Die eerste helfte het taamlik gelykop verloop met Spring Roses wat rustyd met 10-6 voorgeloop het.
In die tweede helfde het Spring Roses egter die krane oopgedraai en drie keer agter die doellyn van Willowmore United gaan kuier.

Veral Spring Roses se heelagter, Dominique Smith, het uitgeblink en pragtig by sy agterlyn aangesluit om die agterlyn meer slaankrag te gee.

Vir Spring Roses het Morné Basie (agtsteman en kaptein), Cedrick Esau (skrumskakel), Marlon Tiemie (flank) en Scott Pretorius (vleuel) elk­een ’n drie gedruk.

Smith het met ’n doelskop geslaag.

Claude Fortuin, losskakel, was ook suksesvol met ’n strafdoel en een doelskop. Spring Roses se spanbestuurder, Hein Coetzee, het ná die wedstryd gesê hy is baie trots op sy span se vordering.

“Die spelers het reeds gewys dat hulle vanjaar oorgehaal is om wenrugby te speel. Ons hoop ons kan vanjaar die liga wen om sodoende deur te dring na die SWD Premierliga.”

• In nog ’n SWD Presidentsligawed­stryd (Karoo) het All Blacks se A-span in ’n wegwedstryd vir Beaufort-Wes met 44-31 gewen. Hulle het ook ’n bonuspunt verwerf. Van die Karoospanne wat in die Presidentsliga meeding, beklee All Blacks nou die tweede hoogste posisie op die punteleer.