Groot rugby op die Plate!

Colan Sylvester (links), burgermeester van Oudtshoorn, oorhandig ’n tjek van R100000 namens die Oudtshoorn munisipaliteit aan Hennie Baartman (middel), president van die SWD Rugbyunie, ter onder- ­steuning van die eindstryd van die SuperSport Rugbyliga wat Sondag op die Bridgton Sportgronde plaasvind. By hulle is Reginald Smith, wrnde munisipale bestuurder van Oudtshoorn.   Foto: Wyndham Ewerts

Colan Sylvester (links), burgermeester van Oudtshoorn, oorhandig ’n tjek van R100000 namens die Oudtshoorn munisipaliteit aan Hennie Baartman (middel), president van die SWD Rugbyunie, ter ondersteuning van die eindstryd van die SuperSport Rugbyliga wat Sondag op die Bridgton Sportgronde plaasvind. By hulle is Reginald Smith, wrnde munisipale bestuurder van Oudtshoorn. Foto: Wyndham Ewerts

Deur Higgo Jacobs
Rugbyliefhebbers kan uitsien na ’n fees van rugby wanneer Griekwas en Pumas mekaar Sondag vanaf 14:30 op die Bridgton Sportgronde (Plate) pak in die eindstryd van die SuperSport Uit­daagreeks.

Die hekke open reeds om 07:30.

Volgens Hennie Baartman, president van SWD Rugbyunie, is dié groot sportgeleentheid aan Oudts-hoorn toegeken vanweë die dorp se bewese prestasie om dié soort rugbywedstryde suksesvol aan te bied.

Die groot getalle toeskouers wat die pawiljoene volpak en hul goeie gedrag  is ook in ag geneem.

“Dit is die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) se beleid om die rugbyuitdaagreeks na kleiner voorheen benadeelde gemeenskappe te bring.

“In ’n landwye opname wat deur SARU gedoen is, is bevind Oudts-hoorn se geriewe, die ondersteuning van die gemeenskap en die plaaslike munisipaliteit sowel as toeskouergetalle die beste in die land is,” het Baartman Dinsdag gesê.

In die voorwedstryde speel Bridgton C vanaf 09:00 teen Progress C en  Bridgton B vanaf 10:30 teen Progress B. In die hoofvoorwedstryd speel Bridgton A vanaf 12:00 teen  Progress A, die verdedigende kampioen van die SWD Premierliga.

Volgens Baartman staan die wenner van  dié wedstryd ’n kans om in SARU se Golden Cup-reeks te speel.

Die wedstryde tussen Pumas en Griekwas en Bridgton A en Progress A word regstreeks op SuperSport gebeeldsend.

Toegang tot Sondag se wedstryde is gratis en geen alkohol mag ingebring word nie.

Baartman het die munisispaliteit van die Groter Oudtshoorn bedank vir hul ruim finansiële bydrae om sportgeleenthede soos dié in Oudtshoorn moontlik te maak. ’n Tjek van R100 000 is aan die SWD Rugbyunie oorhandig.