DIE immergewilde Eden Straatmylreeks vind vanjaar weer plaas, met Oudtshoorn as die middelpunt!
Hierdie reeks lok reeds jare-lank hordes atlete en toeskouers na beide Oudtshoorn én Hartenbos.
Die reeks skop op 17 Desember af met die Klein Karoo Straatmyl wat in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn gehardloop word. Daarna skuif die aksie na die De Jager Atletiekstadion, ook op Oudtshoorn vir die baanmyle op 19 Desember en word afgesluit op Hartenbos op 21 Desember.
Meer as R50 000 se prysgeld is op die spel. Die hoofborge is UOVS, NWU en die Wes-Kaap Departement van Kultuursake en Sport.
In 2021 was die standaard van ons wenners uitstaande met Ryan Mphahlele en Carina Viljoen wat in albei ope-afdelings roeterekords opgestel het.
Mhphahlele het vanjaar pragtig voortgebou op sy prestasies en uiteindelik 2de in die 1 500 m by die 2022 Afrika Kampioenskappe geeïndig.
Hy het aangedui dat hy in die komende seisoen na Johan Cronjé se SA Mylrekord van 3:50.7 mik.
Viljoen, wat in Kalifornië in die VSA gebaseer is, het vanjaar haar persoonlike beste tyd in die 1 500 m na 4:08.36 verbeter.
Sy sal deur die belowende junior Danielle Verster, nog ’n Suid-Afrikaanse atleet wat ook in die VSA gebaseer is, uitgedaag word.
Die status van straatmyle binne wêreld-atletiek is verhoog deurdat World Athletics dit bygevoeg het tot die nuwe wêreld-padkampioenskapprogram wat vanjaar vir die eerste keer op 1 Oktober in Latvia aangebied is.
Die Eden Straatmylreeks bied nou aan ons atlete die geleentheid om die Atletiek SA-keurders van hulle kennis te laat neem.
Atlete kan in vier ouderdomskategorië in die Eden Straatmylreeks meeding – Jong Talent, Junior, Ope en 40+. Daar is ook ’n prys vir die beste ASWD mans- en damesatleet. Asics borg weer 5 pare skoene vir die beste prestasies vir atlete afkomstig uit die Wes-Kaap platteland. ’n Potjiekos-ete wat ’n kenmekaar en motiveringspraatjie insluit, word oudergewoonte by Kleinplaas op 17 Desember aangebied.
Meer inligting omtrent hoe om in te skryf asook die program is op www.edenmiles.co.za sowel as op Facebook beskikbaar.
Mphahlele en Viljoen in 2022 Eden Straatmylreeks!
Aksie tydens ’n vorige Eden Straatmyl in Oudtshoorn se bekende Baron van Reedestraat. Foto: Hans van der Veen