Miljoene rande vir sportgeriewe beskikbaar gestel

DIE burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, sê die munisipaliteit het miljoene rande beskikbaar gestel om sportgerie­we op die dorp op te gradeer.

Macpherson het verlede week in die lig van kommer oor Oudts­hoorn se sportgeriewe, veral die NA Smit-swembad en die Freda Barnard- swem­­gala wat na 40 jaar George toe geskuif is, inwoners verseker dat dié inisiatief by die einste NA Smit-swembad asook die Bridgton-swembad sal begin, en daarna sal uitbrei om onder meer die Bongolethu-swem­bad, Bongolethu-sportterrein en die De Jager Sportkompleks se tartanbaan in te sluit.

Volgens Macpherson mik die munisipaliteit om swembaddens op Oudtshoorn op 18 November vir die publiek te open, maar is daar kommer onder inwoners oor die toestand van die water en geriewe by die swembaddens.

Hy sê die munisipaliteit het reeds ’n proses begin om lewensredders te identifiseer wat ten volle opgelei sal word om inwoners se veiligheid by swembaddens te verseker. Verdere personeel sal beskikbaar gestel word vir instandhouding, sekuriteit en kontrole-doeleindes.

NA Smit-swembad
Volgens Macpherson is die NA Smit-swembad in Parkweg – wat onlangs vir groot ontsteltenis onder inwoners en sportliggame gesorg het weens die swak toestand daarvan – tans net oop vir sportbyeenkomste

“Tans werk die munisipaliteit en Oudtshoorn Sportinisiatief saam om hierdie swembad weer op standaard te bring. Daar is reeds baie werk hier gedoen, en dit sal wonderlik wees as ons in die toekoms meer positiewe samewerking uit die gemeenskap kan kry.”

Die afgelope twee weke het muni­sipale personeel saam met professio­nele swem­badherstel- en instand­- houdings­vennote ge­werk om die swem­badpompe, filters, lekkasies en loodgietersprobleme te herstel, terwyl onderhoudswerk aan die chlorineerder en belig­tingstelsel gedoen is.

Swembadtoerusting is waar nodig deur professionele vennote geïnstal­leer om die waterkwaliteit te verbeter. Opsigters is by elke swembad aangestel om te verseker dat die swembaddens gereeld skoongemaak en swembadtoerusting behoorlik in stand gehou word.

Macpherson sê die munisipaliteit verstaan hoe belangrik die NA Smit- swembad vir die dorp se ekonomie is, en tans word ondersoek ingestel oor hoe die swembad se potensiaal om inkomste te genereer verder ont­gin kan word. ’n Verdere meer as R5 mil­joen sal volgens hom aan die swembad bestee word.

Afhangend van die huidige op­knap­­pings en opgraderings daar, sal dié swembad ook op 18 November vir die publiek open.

Bridgton-swembad
Macpherson sê dat die munisipaliteit bykans R7,5 miljoen aan dié swembad sal spandeer, en dat reeds hard gewerk word om geriewe te herstel en op te gradeer, asook krake in die swembad en foutiewe toerusting soos pompe reg te maak of te vervang.

Volgens hom is die munisipaliteit bewus is van probleme by dié swembad – soos onder meer die veiligheid van inwoners, te veel besoekers by tye, en mense wat die swembad sonder toestemming of betaling probeer binnegaan – en sal aandag hieraan geskenk word.

Opknapping, opgradering en herstelwerk aan dié swembad sal voortgaan totdat die dorp se swembaddens open, en dan weer op 1 Februarie 2023 hervat.

Bongolethu-swembad
Macpherson sê daar is bykans R8,7 miljoen bewillig om die Bridgton-sportterrein te herstel, op te gradeer en te beveilig, waarna orga­ni­sasies of sportliggame wat dit wil gebruik of huur vir byeenkomste – soos met enige ander sportfasiliteit in die dorp – verantwoordelik gehou sal word vir die toestand en skoonmaak daarvan en moontlike skade daaraan.

Tartanbaan word spoedig opgegradeer
Oudtshoorn se tartanbaan by die De Jager-sportkompleks sal ook in die toekoms aandag geniet.
Luidens ’n persverklaring uit die burgemeesterskantoor het konsultan­te en kundiges dié atletiekbaan geïnspekteer, en is bevind dat die baan so spoedig moontlik opgegradeer moet word.

“Hoewel ’n kontrakteur reeds aan­gestel is, word daar tans met die kontrakteur oorleg gepleeg dat die werk nie onmiddellik kan plaasvind nie aangesien daar verskeie atletiekbyeenkomste reeds vir die seisoen bespreek is. Die munisipale bestuur het dringende samesprekings met die kontrakteur, konsultante en belang­hebbendes gevoer om alternatiewe datums te reël waarop die herstel­werk kan begin sonder om byeenkomste te benadeel.

“Die munisipale bestuur is deeglik bewus van die behoefte van skole en atletiekliggame wat aangewese is op die gebruik van die De Jager-atletiekbaan. Organisasies wat reeds byeenkomste op die baan gereël het, word weer dringend gevra om hulle datums met die munisipaliteit te bevestig.”

’n Volledige verklaring in verband met die tartanbaan sal volgens die burgemeesterskantoor later vandag (Donderdag) uitgereik word. (Deur Stefan Skapie Goosen)