DIE “old girls” van die voormalige Hoër Meisieskool op Oudtshoorn het verlede Vrydag (21 Oktober) met ’n gesellige saamkuier die skool se sluiting 60 jaar gelede herdenk. Die skool, wat geleë was waar die Oudtshoorn Polisiekantoor geleë is, het in Desember 1962 sy deure gesluit.
Tydens die herdenking het die oud-leerlinge, waarvan die oudste 88 jaar en en jongste 76 jaar oud is, asook personeellede dié spesiale geleentheid oor ’n koppie tee by ’n plaaslike restaurant geniet.
Die voormalige Hoër Meisieskool en Hoër Seunskool, wat in die gebou geleë was wat vandag die CP Nel Museum huisves, het in 1963 saamgesmelt en die Hoërskool Oudtshoorn gevorm, maar die nuwe skool was aanvanklik in twee geboue geleë en personeel en leerders moes vir die eerste vyf jaar te voet tussen die twee geboue pendel.
Die indrukwekkende Towers Volstruispaleis op die dorp is in 1966 gesloop om plek te maak vir ’n moderne nuwe skoolgebou om die Hoërskool Oudtshoorn te huisves. (Deur Angelique Erasmus)
Meisieskool se ‘old girls’ herdenk 60 jaar
Oud-leerlinge en personeel van die voormalige Hoër Meisieskool op Oudtshoorn verlede Vrydag tydens ’n besoek aan die pragtige CP Nel Museum-gebou waar die voormalige Hoër Seunskool gevestig was. Dié groep kom gereeld byeen om saam te kuier en herinneringe en staaltjies uit hul skooldae te deel. Foto: Tieneke Maritz