Matjiesrivier-moord: ‘Dit was selfverdediging’

’N VROU van Matjiesrivier in die Oudtshoorn-distrik wat van moord op haar kêrel en pa van hul tweejarige kind aangekla word, moet op 22 Oktober in die Oudtshoorn Streekhof wees vir die uitspraak.

Christolene Swartbooi (25) pleit onskuldig en voer aan dat sy uit selfverdediging opgetree het. Volgens haar het die oorledene, Christopher Ewerts, die aand van 25 Januarie 2020 haar van ontrouheid beskuldig en met sy vuiste in haar gesig en maag geslaan. Hulle was albei onder die invloed van alkohol en sy het te­rug­baklei.

Sy sê Ewerts het later sy Okapi-mes uit sy sak gehaal om haar te steek, maar iemand het dit by hom afgeneem. Hy het glo ’n tweede keer ’n mes op ’n tafel gegryp wat ook by hom afgeneem is. Nadat die oorle­dene haar aan haar klere vasgehou het, het sy in ’n stadium losgekom en ’n tweede mes wat op die tafel was, geneem en na Ewerts gesteek. ’n Eerste hou was mis en ’n tweede het hom in die nek getref. Sy sê sy het haarself ver­dedig en nie bedoel om Ewerts dood te steek nie.

Anna Pieterse (65) het getuig dat sy die bakleiery dopgehou het met die kind in haar arms. Volgens haar het sy gehoor Ewerts sê dat hy die be­skuldigde nie sal los voordat hy haar doodgemaak het nie. Sy het gesê dat die beskuldigde vir Ewerts probeer help het nadat sy hom gesteek het.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het dit aan Swartbooi gestel dat sy haar weergawe van gebeure fabriseer en nie uit noodweer opgetree het nie. Ewerts was nie gewapen toe sy hom gesteek het nie en haar lewe was dus nie in gevaar nie.

“Na aanleiding van die beskuldigde se eie weergawe het sy die perke van selfverdediging oorskry. Haar getuienis in die hof verskil ook van haar polisie­verklaring,” het Smith gesê.

Swartbooi se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het betoog dat sy geregtig was om haarself teen Ewerts te verdedig.

“Die oorledene het haar soos ’n bokser geslaan en wat moes sy doen?” het hy gevra. Hy het die hof versoek dat indien sy die perke van noodweer oortree het, sy hoogstens aan strafbare manslag skuldig bevind kan word omdat dit duidelik is dat sy haarself verdedig het.

Die saak word deur streeklanddros Sylvia Mandla aangehoor. (Deur Garnett Wicomb)