VERLOF om teen haar skuldigbevinding en vonnis te appelleer is Vrydag (3 September) in die Oudtshoorn Streekhof geweier aan Haroldene Korkee (42), wat aan moord op haar pasgebore babaseuntjie skuldig bevind is. Sy is agt jaar gevangenisstraf opgelê.
Korkee van Dysselsdorp, ’n ma van drie en ouma van een, sê in haar aansoek sy is van mening dat die landdros fouteer het met haar skuldigbevinding en vonnis. Haar regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, sê Korkee is van mening dat ’n ander hof moontlik tot ’n ander bevinding kan kom.
Volgens hom is daar geen getuienis voor die hof dat Korkee die kind versmoor het nie en het die hof nie genoeg afgewyk van die minimum vonnis nie. Die vonnis van agt jaar is volgens die applikant ook skokkend.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die aansoek teengestaan en betoog dat getuienis aangehoor is dat Korkee duidelik verwagtend was terwyl sy dit kwansuis nie geweet het nie. Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê dat die hof alle getuienis behoorlik beoordeel het en die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het. Sy het gesê getuienis dui duidelik daarop dat Korkee die moord bewustelik gepleeg het.
“Die hof het reeds genade betoon deur af te wyk van die minimum vonnis van vyftien jaar en het ’n plig om kinders teen mense soos die applikant te beskerm. Daarom glo die hof nie dat enige kans bestaan dat ’n ander hof ’n ander bevinding en ’n ligter vonnis sal oplê nie,” het Moni gesê. (Deur Garnett Wicomb)