Wat hul saai gaan die gemeenskap maai!

Lede van die nie-winsgewende organisasie, Green Leaves Farm, staan op ’n gedeelte van die grond waar hul harde werk van die laaste weke duidelik sigbaar is. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE nie-winsgewende organisasie Green Leaves Farm (GLF) se droom om ’n groentetuin te bewerkstellig wat hulself, hul gesinne en hul gemeenskap kan dien, groei by die dag en gaan binnekort vrug dra, soos die uitdrukking lui.

Die Hoorn volg die verhaal van nege mans van die Black Joint-ge­meenskap op Oudtshoorn reeds sedert Mei vanjaar, toe hul droom van ’n storie van hoop tot een van teleurstelling en frustrasie verander het.

Hul vergeefse soektog na ’n gepaste stuk grond het hulle laat begin glo dat hulle ’n doodloopstraat bereik het.

Dit is hier waar Howard Barends, ’n heuningbosboer in die Nooit­gedacht-omgewing, betrokke geraak het en middel Julie ’n stuk grond langs die Prins Albert-pad aan hulle beskikbaar ge­stel het.

GLF se droom kon daar vlerke kry.

Vandeesweek het GLF se lede gespog met wat hulle tot dusver bereik het. Die stuk onbewerkte grond wat hulle ontvang het, is geploeg en bewerk, met verskeie gewasse wat geplant is.

Volgens Jolin Loggenberg, mede-stigterslid van GLF, het hy en sy span tot dusver aartappels, pampoene, botterskorsies en ook groenbone geplant.

“Ons is so bly dat ons uiteindelik ’n stukkie grond kon kry, en soos jy kan sien is ons baie besig daar,” het hy aan Die Hoorn gesê. “Een van die dae gaan die sopkombuise in ons ge­meenskap die vrugte pluk van hierdie projek, soos wat ons van die begin af gesê het. Ons voel ons móét terugploeg in die gemeenskap.”

Die mans werk tans in skofte om na hul groentetuin om te sien, en het groot planne om uit te brei. Die borge wat hulle sedert die aanvang van hul projek met harde werk aan boord gekry het, staan ook bankvas agter hulle.

Die feit dat hul groentetuin so ver buite Oudtshoorn is, maak nie vir GLF saak nie en hulle maak planne om dit te hanteer.
Hulle kry ryge­leent­­hede waar moontlik, werk in drie- of vier-dagskofte om so minder vervoer te gebruik, en een van die lede ry selfs op ’n bergfiets soontoe en terug wanneer hy aan diens is.

“Dit sal goed wees as ons meer bydraes tot vervoer kan kry, maar wat ons nou die nodigste het, is persoonlike beskermende toerusting (PPE), saad en ’n kospakkie af en toe. Totdat ons kan oes, moet ons ander plan maak,” sê Loggenberg.

Inwoners wat meer wil weet oor wat GLF doen, of betrokke wil raak by die projek en dié groep wil bystaan, kan Loggenberg by 082 543 3558 skakel. (Deur Stefan Skapie Goosen)